Dagboek 2021 – 3 Junie
Die Heilige Gees en openbaringstaal
Bybelteks(te)
EFESIËRS 1
Paulus se gebed
So in die tyd na Pinkster is ons nog besig om te kyk na die werk van die Heilige Gees. Ons kyk na die verskillende tale wat ons hoor wanneer die Heilige Gees met ons praat, en vandag kyk ons na die taal van openbaring of bekendmaking.
Die skrywer van Efesiërs bid dat God die Vader Hom deur die Heilige Gees aan die gelowiges in Efese sal openbaar sodat hulle Hom ten volle kan ken. Paulus se gebed is dat hulle tot die volledige insig en kennis van God se grootheid sal kom, want alleen dan kan hulle geloofwaardige getuies van Christus word. Die openbaring van God verander die volle lewe van diegene wat deur die Heilige Gees aangeraak word, sodat hulle getuies van Christus kan wees. Dieper insig en ’n besef van die omvang van die krag van die Heilige Gees wat in die kinders van die Here werk, is die sleutel wat die deur van geloof oopsluit. Paulus wys daarop dat dit dieselfde krag is wat Christus uit die dood opgewek het wat ook in ons werk. Die krag van die opstanding is groter as enigiets wat ons ken. Dit is ’n krag wat ons die vermoë gee en ons in staat stel om nie slegs met ons monde te getuig nie, maar om as instrumente van Christus te lewe. Om met woord en daad die liefde van God sigbaar te maak.
Die openbaring van die werk van die Heilige Gees omsluit die gelowige se hele bestaan wat alle grense van tyd en ruimte oorskadu. Nie net werk die Heilige Gees in ons nie, maar Hy werk ook deur ons. Sy openbaring aan ons is ook ’n openbaring deur ons wat die grootsheid en diepte van God Drie-enig aan die wêreld bekendmaak.
Kan ander deur ons die grootheid van God sien? Is my lewe ’n getuienis van Christus se liefde? Mag ander deur my lewe iets van Christus se liefde sien.
Dr Martin Jansen van Rensburg, Delmas