Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 1 Augustus

Laat staan alle bitterheid

Bybelteks(te)

EFESIËRS 4

Riglyne vir die nuwe lewe

25Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat, want ons is lede van dieselfde liggaam.

26As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie 'n dag kwaad afsluit nie. 27Moenie die duiwel vatkans gee nie.

28As iemand 'n dief is, moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op 'n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee.

29Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.

30En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.

31Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. 32Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.

EFESIËRS 4:25-32AFR83Maak oop in die Bybelleser

Bitterheid en onvergewensgesindheid – twee kante van dieselfde munt wat die potensiaal het om al ons lewensvreugde te steel. Ons raak mos naderhand geheg aan ons bitterheid, terwyl die een wat jou bitterheid veroorsaak het, waarskynlik al van jou bestaan vergeet het.

Ons bid: Vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree, maar ons bedoel eintlik: Net nie nou al nie! Bitterheid is om die brug te verbrand waaroor jy self moet loop! As jy jou een hand per ongeluk raaksny, dan neem jy mos nie wraak deur die ander hand te sny nie. Bitterheid is om tronkstraf uit te dien vir iemand anders se misdaad.

Let ’n bietjie op as jy weer tennis kyk op TV – net voor ’n advertensie sien jy soms hoe ’n speler die opponent ’n vuil kyk gee. So lyk dit, maar selfs ’n onskuldige, terloopse kyk kan soos ’n vyandige gluur lyk as dit in stadige aksie gewys word.

Ons laat ook toe dat vinnige, terloopse kyke ’n aggressiewe gluur word. Ons plaas gewone elkedagse interaksies in stadige aksie en kyk dan weer en weer daarna, en word al hoe kwater daaroor. En so word klein dingetjies reusedispute. Ons doen presies wat Efesiërs 4:26 ons vra om nie te doen nie: Ons sluit elke dag kwaad af.

Dit laat my dink aan die twee monnike wat ’n ou dame sien huil omdat daar nie ’n brug oor die rivier is nie. Hulle dra haar toe deur die rivier. Vir kilometers verder het die een monnik by die ander een gekla oor sy seer rug omdat hy die vrou moes dra. Uiteindelik kon sy kollega dit nie meer hou nie en vra: Weet jy hoekom mý rug nie seer is nie? Nee, hoekom nie? Want ek het die vrou al kilometers terug reeds neergesit.

Sit die klein kwessietjies agter jou en beweeg aan. Daar is baie belangriker dinge om op te fokus. Die lewe is kort, en dit word elke dag nog korter.

Dr Johan van Staden, Sionspoort

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS