Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 18 Maart

Die massas word gemanipuleer

Bybelteks(te)

GENESIS 34

18Gamor en sy seun Sigem het hiertoe ingestem. 19Die jongman Sigem wou nie die saak laat sloer nie, want hy was lief vir Jakob se dogter. Omdat Gamor en Sigem die meeste gesag onder hulle mense gehad het, 20het hulle na die stadspoort toe gegaan en daar vir die mans van die stad gesê: 21“Hierdie vreemde mense het met goeie bedoelings na ons toe gekom. Hulle wil hier kom bly en met hulle kuddes in ons land rond trek: die land is groot en lê oop voor hulle. Dan kan ons met hulle dogters trou en hulle met ons s'n. 22Hierdie mense sal egter net by ons kom bly en saam met ons een volk word as al ons mansmense besny word soos dit by hulle is. 23Hulle kuddes, al hulle vee, hulle besittings, word ons eiendom as ons instem, en dan sal hulle by ons bly.”

24Al die mans van die stad het na Gamor en sy seun Sigem geluister, en hulle almal is besny.

GENESIS 34:18-24AFR83Maak oop in die Bybelleser

Gamor en Sigem trap in die strik van Jakob se seuns. Sigem is in so ’n mate verblind deur sy passie vir Dina dat hy al die mans van die stad oorreed om aan hul eise toe te gee. Manipulasie en magsmisbruik wat uitloop op gruwelike geweld en bloedvergieting.

Dit is presies wat gebeur wanneer die Joodse leiers die skare opsweep om aan te dring op Jesus se kruisiging. Persoonlik het hulle eintlik geen belang daarby of Jesus lewe of sterwe nie. Hulle word bloot die speelbal in die hande van die Joodse leiers wat hul bloeddorstigheid manipuleer ten einde in hul doel te slaag dat Jesus ter dood veroordeel word. Hul manipulasie is so effektief dat selfs Pontius Pilatus deur hulle oorgehaal word om teen sy eie beterwete te handel en ’n onskuldige Man te laat kruisig. Dit is die mag van opsweping en emosionele manipulasie.

Ongelukkig is die kerk se hande ook met bloed bevlek wanneer dit by die manipulasie van die massas kom. Die Rooms-Katolieke kerk het ’n bloedspoor gelaat met hul dwaalleer van die aflaatstelsel. Mense is met drogbeelde uit die vagevuur met vrees en bewing vervul ten einde in die hande van die kerklike elite te speel. Met goedkoop retoriek is mense oorgehaal om kruistogte te onderneem omdat dit kwansuis ’n “heilige oorlog“ is wat gevoer word.

Om die massas met holle slagspreuke te oortuig, is geen kuns nie en steeds aan die orde van die dag. Op die bloedvergieting en lewensverlies wat hierdie skadelike retoriek tot gevolg het, reageer die bulderende orators deur bloot hul skouers op te trek. Gelowiges, en veral gelowiges in leiersposisies, moet daarteen waak om te verval in oppervlakkige slagspreuke wat skadelik op die psiges van mense kan inwerk. Dit is vreemd aan ons teologiese tradisie in die Hervormde Kerk wat groot waarde heg aan kritiese nadenke. Om te manipuleer, is lafhartig. Om toe te tree tot die debat, is edel. Mag die oop gesprek in die kerk voortduur.

Dr Elritia le Roux, Middelburg

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS