Dagboek 2021 – 18 Julie
Die erediens – tot opbou van die gelowiges
Bybelteks(te)
1 KORINTIËRS 14
Die gawe om te profeteer
Die apostel Paulus vermaan die Christene in Korinte om in die erediens net dinge toe te laat wat tot opbou van die gemeente dien. Daarom moet alles verstaanbaar en ordelik wees. God is ’n God van orde en nie van wanorde nie. In die erediens lei die Heilige Gees mense nie om allerlei vreemde tale of klanke te gebruik nie, maar om die Woord van God te verkondig. Deur die verkondiging van die Woord, sê die apostel Paulus, word ons in ons gewete aangespreek en kom ons tot geloof in God.
Die verkondiging van die evangelie van Jesus Christus is alleen moontlik wanneer die Heilige Gees ons daartoe lei. Nie net die prediker staan onder leiding van die Heilige Gees nie. Elkeen wat luister na die verkondiging, word deur die Heilige Gees aangegryp, word deur die Heilige Gees oortuig van die waarheid, en word deur die Heilige Gees gelei om te getuig: Waarlik, God is hier by julle!
Ons mag nooit twyfel aan die krag van die Woordverkondiging nie. Baie mense dink prediking is outyds of onbelangrik. Dit is natuurlik nie vreemd nie. Ons lees op verskillende plekke in die Ou Testament dat die Israeliete nie na die profete wou luister nie, dat hulle die Woord van die Here en die verkondiging daarvan verag het. Dit is deel van die mens se sonde en eiewilligheid. Die mens het van nature ’n weersin aan die Woord van God en die verkondiging daarvan. 1 Korintiërs 14 leer ons dat die verkondiging van God se Woord uiters belangrik is, en ’n belangrike manier hoe die Heilige Gees mense tot geloof lei.
Gebed
Here, ons bid vir die verkondiging van u Woord en die verspreiding van die evangelie. Wil U gee dat elkeen wat die Woord hoor, sal bely dat Jesus Christus die Here is en elke knie voor U sal buig. Amen.
Gesang 438:1 en 2
Prof Wim Dreyer, Universiteit van Pretoria