Dagboek 2021 – 18 Desember
Wat is vrede?
Bybelteks(te)
MIGA 5
Hy sal vrede bring. Kersdag gedenk die tyding van groot blydskap: dat in die stadjie Betlehem die Verlosser, Jesus Christus, gebore is. Deur Christus bewys God sy liefde en genade aan ons. Vrede. Hoe begeer ons dit nie, want ons het so min daarvan. Vrede is daardie sekerheid, die salige bewus wees van die fondament waarop ons lewens gebou is. Hierdie vrede is daarom Jesus Christus self. Sy lewe, werke en woorde is die verkondiging van die genade van God. Sy dood is die verlossing wat God vir ons uit die dood en sonde toeberei het. Sy opstanding is die belofte van God aan elkeen van ons dat ook ons die dood sal oorwin en ewig by Hom sal wees.
Ons vergeet maklik dat Jesus self hierdie vrede is. Wanneer ons dit vergeet, skei ons Jesus en die vrede. Dit word dan twee dinge: Jesus, en die vrede. Dit is dan ’n vrede sonder God en sonder Christus. In die persoonlike lewe van mense sien ons dit ook. Die mense soek vrede. Daar is baie wat hulself opoffer in diens van hul naaste. Ja, dit is alles dinge wat kom uit die Kersgedagte, maar Christus self word meestal vergeet.
Watter skrille kontras is daar nie tussen die vrede van Kersfees en die vrede wat ons in ons daaglikse lewe ken! Die wêreld smag na vrede, maar hulle maak oorlog ter wille van vrede. Ons bid vir vrede en hoop ,angstig dat alles tog maar goed sal verloop. Laat ons ons eerder meer bekommer oor Christus en ons verhouding met Hom. Ons moet meer bereid wees om onsself toe te vertrou aan Christus, en die vrede sal aan ons gegee word.
Jesus Christus is die vrede van ons hart omdat Hy ons met God versoen. Hierdie vrede is ’n erfenis wat deur niks van ons ontneem kan word nie. Christus is ons vrede; loof die Here, want Hy is goed. Aan sy liefde is daar geen einde nie.
Ds Cornie Pieterse, Emeritus