Dagboek 2021 – 18 April
Voeg die daad by die woord
Bybelteks(te)
2 TIMOTEUS 2
Die arbeider wat goedkeuring wegdra
Ons praat te veel, doen te min. Paulus sê nie hou op met praat nie. Paulus stel voor ons kies ons onderwerp beter: dinge wat saakmaak. Watter dinge? Die evangelie dat ons saam met Christus gesterf het, en nou saam en net soos Christus lewe. Glo jy dit, kom geloof by jou hande uit, nie net by jou mond nie. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Waarvan die hele lyf oorloop, neem die hele lewe oor. Elke ledemaat meld aan vir diens.
Moenie in die slaggat trap dat woorde genoeg is, of dat woorde nie die bohaai werd is nie. Petrus verloën Jesus met net ’n paar woorde: Ek ken Hom nie! Net woorde, maar een en dieselfde sonde wat Judas ook gedoen het. Die ander tien dissipels het niks verkeerd gedoen nie. Hulle het net mooi niks gedoen nie. Hulle het nie eens opgedaag nie.
Jesus verloën ons nie. Jesus bly getrou. Jesus, die betroubare Woord van God, voeg die daad by die woord. Moenie ophou praat nie, maar doen ook. Staan met jou hele lewe in vir wat jy sê.
Paulus sê: Jesus Christus is uit die dood opgewek. Dit is die evangelie wat hy verkondig. En vir wat hy sê, gee hy sy lewe. Ander mense se lewens hang daarvan af. Selfs die “uitverkorenes” se verlossing en ewige heerlikheid hang af van hoe geloofwaardig jy vir Christus Jesus instaan. Dis die werk wat God jou gee: Jy is ’n arbeider, ’n doener; almal van ons is arbeiders wat op mense ’n merk maak.
Hou jy jou met beuselagtigheid op, bring jy niks en niemand nader aan God nie. Inteendeel, dit bring net goddeloosheid, en sulke woorde sal voortvreet soos kanker. Woorde maak jou op wrede maniere dood. Vir wat jy doen, hoef jy jou nie te skaam nie, mits jy doen wat God se goedkeuring wegdra. Nie wegbly óf stilbly is enigiets werd nie.
Praat oor God. Leef soos Jesus.
Ds Hennie la Grange, Kampersrus