Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 17 Maart

Godsdiens word misbruik

Bybelteks(te)

GENESIS 34

13Jakob se seuns het egter nie vir Sigem en sy pa Gamor 'n reguit antwoord gegee nie, want die broers se suster Dina was onteer. 14Hulle het toe gesê: “Ons kan nie ons suster sommer so laat trou met 'n man wat nie besny is nie. Dit is vir ons 'n ongehoorde ding. 15Ons kan net instem as julle soos ons word: besny al julle mans. 16Dan kan ons ons dogters met julle laat trou en kan ons met julle dogters trou. Dan sal ons by julle bly en ons sal een volk word. 17Maar as julle nie na ons luister nie en julle nie laat besny nie, sal ons ons suster vat en wegtrek.”

GENESIS 34:13-17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dit wil voorkom asof die gesindheid van Dina se broers tog anders is as dié van hul vader. Hulle word nie onmiddellik deur Sigem se aantreklike aanbod beïndruk nie. Hul suster Dina is immers deur hom onteer. Ons dink terug aan hul woede wat in vers 7 beskryf is. Dit was immers ’n gruwelike ding wat hul suster aangedoen is, totaal buite die aanvaarbare norm in Israel: So iets doen ’n mens nie. Die gedagte dat hul suster nou met ’n man trou wat nie besny is nie, is net so ’n ongehoorde ding. Ou-Testamentici is nie oortuig dat die besnydenis in hierdie stadium in Israel se geskiedenis al die betekenis van die verbondsteken gehad het nie. Dit was ook nie noodwendig die gebruik dat seuntjies op die agtste dag na hul geboorte besny is nie, maar die rite het eers plaasgevind wanneer hulle volwassenheid bereik het.

Soos die verhaal hier ontvou, wil dit voorkom asof die besnydenis bloot ’n middel tot ’n doel word om uiteindelik wraak op Sigem te neem vir die oneer wat Jakob se familie aangedoen is. Die aandrang op die besnydenis word onder valse voorwendsels gemaak.

Die apostel Paulus is in sy brief aan die Galasiërs baie krities teenoor die valse voorvereiste dat heidene wat tot die Christelike geloof bekeer, eers besny moet word. Die besnydenis kan tog nie die voorwaarde wees vir Christus se verlossing en genade nie. Godsdiens word dikwels misbruik om mense skaamteloos te manipuleer. Voorwaardes word gestel om mense uit te buit. Dikwels het hierdie voorwaardes finansiële implikasies: Mense wat groot bydraes gee, sal geseën word. Die Bybel veroordeel die misbruik van godsdiens vir eie gewin. Hiervan is ons gelese teks ’n uitstaande voorbeeld. Gelowiges se bedoelinge moet opreg wees en mag ons medemens nooit benadeel nie. Die genade wat Jesus Christus skenk, stel nie eise nie.

Dr Elritia le Roux, Middelburg

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS