Dagboek 2021 – 17 Julie
Gawes in diens van die gemeente
Bybelteks(te)
1 KORINTIËRS 12
Die verskeidenheid van geestelike gawes
In die gemeente van Korinte was daar groot verdeeldheid. Party van Jesus se volgelinge het gedink hulle is beter gelowiges as die ander. Paulus skryf aan die gemeente om die verdeeldheid tot ’n einde te bring. In hoofstuk 12 word dit duidelik dat daar in God se koninkryk nie eerste- en tweedeklas Christene is nie. Almal is belangrik. Almal ontvang op ’n eie en unieke wyse gawes van die Heilige Gees, en elkeen word op ’n besonderse wyse toegerus om die Here te dien.
Paulus gebruik in hoofstuk 12 ’n beeld om dit te verduidelik. Hy vertel van die liggaam wat uit verskillende dele bestaan, uit die voet en die hand en die oor en die oog. Elkeen van hulle is belangrik, en elkeen het ’n eie funksie. So is elke Christen ’n ledemaat in die liggaam van Christus en belangrik vir die funksionering van die liggaam. Daarom kan ons nie dink dat een lidmaat belangriker is as die ander nie.
Die vraag is, besef jy dit? As jy glo in Jesus Christus die Here, weet dan dat dit die Heilige Gees is wat daardie geloof aan jou geskenk het. Maar weet ook: Die Here het jou nie gelowig gemaak en toegerus met die gawes van die Gees sodat jy dit alles onder ’n emmer kan wegsteek nie. Om deel te wees van die liggaam van Christus, beteken dat jy as hand of voet of oog of oor jou deel moet doen om die welstand van die liggaam te bevorder. Geloof in Jesus Christus beteken ’n lewe van toewyding aan God en diensbaarheid in sy kerk en koninkryk.
Gebed
Here, ons bid dat U kragtig deur u Gees in ons sal werk, en dat U elke dag ons geloof sal versterk. Help ons om as u kerk en gemeente diensbaar te wees, en ons gawes in u diens te gebruik. Amen.
Gesang 435:1
Prof Wim Dreyer, Universiteit van Pretoria