Dagboek 2021 – 17 Desember
Is jou hart oop?
Bybelteks(te)
SAGARIA 9
Die koning sal kom
Ons gedenk nou weer die Adventtyd. Dit beteken Christus kom. Die volk het lank gewag op die koms van hierdie koning, maar eeu na eeu het sy koms weggebly. Dan sê Sagaria: Kyk, jou koning kom! ’n Vreugdevolle boodskap vir die volk, want saam met hom sal Israel die volke regeer. Die res van die boodskap dat hy nederig sou wees en op die rug van ’n donkie sou ry, het hulle geïgnoreer. Hierdie koning is arm om die sondaar ryk te maak in God!
Johannes die Doper moes die dissipels daarop wys dat Jesus die beloofde koning was van wie die profete gepraat het. Toe Hy kom, word die profesie van Sagaria waar. Met Jesus se intog in Jerusalem juig die skare, en ’n paar dae later skree hulle: Kruisig Hom! Hierdie intog van Jesus spreek net een taal, en dit is om binnegelaat te word in jou hart. Jesus Christus is aan die kom en jy moet jou hart oopmaak sodat Hy kan inkom. Om Hom in te laat, moet jou hart eers verander word. Jesus wil inkom in ’n arm en leё hart wat berou het oor sondes, want dit is juis ons sonde wat gelei het tot sy koms na hierdie wêreld. Hierdie tekswoorde sê verder dat ons Koning regverdig is. Al is ons nie regverdig nie, is Hy in staat om ons regverdig te maak deur vir ons sondes te betaal. As Nederige het Hy medelye met al ons verdrukkinge en nood. Watter voorreg om die koms van so ’n Koning te gedenk!
Israel het in die dae van die profeet uitgesien na die koms van hul Koning. Ons mag en moet verheug wees, want Hy het reeds gekom. Nog steeds is hierdie Koning besig om te kom, want Hy kom in die harte van mense. Met die oog op die komende Kersfees moet jy jou hiervoor voorberei, sodat hierdie Koning ook in jou hart sy intrek kan neem: dié Jesus-kind wat mens geword het ter wille van jou.
Ds Cornie Pieterse, Emeritus