Dagboek 2021 – 17 April
Net een God wat heidene ook besny, net anders
Bybelteks(te)
ROMEINE 3
Die God van die Jode is ons God ook.
Jesus daag vir Sondagmiddagete saam met die dissipels op. Enigiets te ete sal werk vir ’n honger maag. Die Man met die gate in die gewrigte en die gapende wond aan die sy het Donderdagaand laas nat of droog oor sy lippe gehad, buiten die asyn in die spons. Jesus, die Gekruisigde, eet en drink en kuier met ou vriende oor die afgelope week en die laaste drie jaar, seën en vergewe die spul slaprug dissipels en maak ’n afspraak met Tomas vir volgende Sondag, selfde tyd, selfde plek, want Tomas hou hom mos ongelowig. Vir Petrus laat Hy weet verloëning is nou nie juis ’n rotsvaste fondasie vir ’n kerk nie, hy moet hom regruk. Maar dit help darem dat die man nie sy eie stert begin prys nie. Vertrou God, nie julself nie.
Jou doodsberig, die wet en jou gewete, is verkeerd aangehaal; dis dan nuus van jou nuwe lewe! Jesus het die wet tot sy reg laat kom. Glo nou in Jesus, dis al, en oorgenoeg. Glo jy is van sonde vrygespreek. Hierdie God word voortaan aan vryspraak geken. Vryspraak het in ons lewens in werking getree, heidene wat ons was. Ons is nou nes die Jode, besny: Ons sonde is afgesny soos ’n siek ledemaat.
Vryspraak werk soos ’n hartomleidingsoperasie. God maak ’n nuwe pad na jou hart toe oop. Met die verstopping weg, loop God sommer reguit in jou hart in. Dis ’n vonk, ’n kortsluiting, ’n weerligstraal wat aanhou skyn. Geloof werk so: dat ek en jy daardie ander pad na die lewe toe begin gebruik in die vertroue dat die nuwe aar al die werk kan doen wat ek vanself nie meer kon nie. Ondervinding van geloof sal leer dat hierdie pad na my hart só goed werk, dat ek hom kan begin gebruik vir lewe. God kan die ou aar nou maar uitsny.
Ds Hennie la Grange, Kampersrus