Dagboek 2021 – 16 Maart
Uitverkoop vir eie gewin
Bybelteks(te)
GENESIS 34
In die antieke wêreld was grondgebied en ’n nageslag primêre oorwegings, daarom is die ooreenkoms tussen Jakob en sy seuns en die mense van Sigem van kardinale belang. Die ooreenkoms word beklink met die sluiting van huwelike tussen die nageslag van Jakob en die nageslag van Sigem. Hiervan sou Dina die eerste wees. Dina, haar persoon, haar belange en haar wense, word nie in hierdie onderhandelings geken nie. Dit is egter niks buitengewoon nie. Dit was die normale praktyk in die Ou Nabye Ooste dat huwelike gesluit is deurdat die mans in die familie namens die bruid onderhandel het. Haar wense en gevoelens het nooit ’n rol gespeel nie. Daar is van die veronderstelling uitgegaan dat haar vader en haar broers haar belange sou beskerm.
Dit gebeur juis nie. Dit wil voorkom asof Jakob so opgewonde was oor die voordele en rykdom wat ’n ooreenkoms met Sigem vir hulle sou inhou, dat Dina bloot tot pion gereduseer word. Sigem onderneem dat hy enige geskenk sal gee wat Jakob en sy seuns van hom vra, solank hulle instem dat Dina met hom kan trou. Weer eens is Dina uitgelewer. Hoe verskriklik die gedagte dat haar vader haar gaan laat trou met die man wat haar in die eerste plek onteer het!
Dit is tog kommerwekkend dat Jakob bereid is om die feit te ignoreer dat sy dogter, en daardeur hul hele familie, eintlik deur die mense van Sigem ’n oneer aangedoen is. Kan die uitsig op rykdom en grondgebied hulle in so ’n mate verblind dat hul eergevoel op die agtergrond geskuif word? Soos Judas Iskariot eeue later Jesus vir 30 silwerstukke sou uitverkoop, is Dina deur haar pa uitgelewer.
Hoe dikwels gedy onreg omdat selfsugtige eiebelang die allesoorheersende faktor is! Mag die gesindheid van gelowiges eerder dié wees wat daar in Jesus Christus was, wat sy Goddelike status nie as iets beskou het waaraan Hy moes vasklou nie, maar die belang van die ander hoër as sy eie geag het.
Dr Elritia le Roux, Middelburg