Dagboek 2021 – 17 Junie
Lojaal en getrou
Bybelteks(te)
HANDELINGE 2
Die eerste bekeerdes
Die eerste gemeente
In 48 vC was Julius Caesar die aanvoerder van die 13de legioen van die Romeinse leër wat ’n opstand van die Galliërs teen Rome in bedwang moes bring. Caesar was suksesvol en het triomfantlik teruggekeer na Italië. Die noordelike grens van Italië was die Rubiconrivier. Volgens wet en gebruik moes Caesar sy leër ontbind voor hy die rivier oorsteek, maar hy het doelbewus die Rubicon oorgesteek met sy volle leër. Toe hy deurry op sy perd, het hy dié beroemde woorde geuiter: alea jacta est; dit is: die dobbelsteen is gewerp. Hierdie spreekwoord word tot vandag toe gebruik vir ’n handeling waarvan die uitkoms onseker is. Eweneens word die spreekwoord om die Rubicon oor te steek steeds gebruik met die betekenis van ’n onomkeerbare handeling.
Petrus verduidelik dat twee dinge gebeur wanneer God jou aanraak deur sy Gees. Die eerste is dat jy ’n hartsverandering ondergaan. Jy moet jou dus wend na God toe en dit ’n bewustelike doelwit van jou lewe maak om Hom te eer en te dien. Dit is ’n individuele keuse wat net jy kan maak. Die tweede taak wat jy opneem, is iets wat jy saam met ander doen. Dit is om die hande en voete te wees van God se liefdeswerk in die wêreld. Dit kom na vore in aksies en handelinge van die geloofsgemeenskap, en dit vra getrouheid in jou dienswerk en lojaliteit aan die gemeenskap.
Die kern van wat Petrus, sê kan só saamgevat word: Geloof = hartsverandering + doelgerigte lewe.
Om werklik in jou hart vrede te hê, moet daar ’n lewende verhouding wees tussen jou en God en ’n doelgerigte lewe tot sy eer. Met die hart glo ons, met die mond bely ons en met die hand doen ons. Jy moet daardie Rubicon oorsteek. Dit moet ’n onomkeerbare besluit en aksie wees. Dan kom jy in die kragveld van die Gees en begin dinge gebeur. Lukas eindig die gedeelte: God het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.
Laat ons dan lojaal en getrou bly glo en dien.
Dr Piet van Staden, Emeritus/Stellenbosch/Worcester