Dagboek 2021 – 18 Junie
Wysheid begin hier
Bybelteks(te)
SPREUKE 9
Die onderskeid tussen kennis en wysheid is belangrik. Kennis is inligting oor die wêreld waarin ons leef. Wysheid is die vermoë om die verband te verstaan tussen oorsaak en gevolg; om te verstaan wat die belangrikste beginsels in die lewe is en dit na te streef en te bevorder.
Die boek Spreuke gebruik die woorde kennis en wysheid om die leser toe te rus in die wysheid van lewenskuns. In hoofstuk 9 is daar twee dames wat aan die woord kom en wat spieëlbeelde van mekaar is. Die eerste is die dame Wysheid, en die tweede is die dame Dwaasheid. Albei van hulle rig ’n uitnodiging na ’n feesmaal. Dame Wysheid het ʼn huis gebou met sewe pilare. Sewe is die getal van afgerondheid, heelheid, volmaaktheid. By haar is nadenke en versigtige oorweging te kry. Dame Dwaasheid is luidrugtig, stadig van begrip en sonder kennis van sake. Sy roep: Draai af hiernatoe. Glip om die hoek. Gesteelde water is soet, geheime kos is lekker. Sy bied sinlike genot, die adrenalien van die bandelose.
Die lewe is ʼn spel tussen Dame Wysheid en Dame Dwaasheid. Albei roep, albei nooi ons uit na ʼn banket. Albei klink lekker, maar die een se uiteinde is lewe en die ander dood. Wie wysheid kies, kies lewe; wie dwaasheid kies, kies dood.
En wat is wysheid? Hier is die kern van die hoofstuk en die hele boek Spreuke: Wysheid begin met die dien van die Here. Wie die Heilige ken, het werklik insig. Hulle verstaan die waarvandaan, die waarom en die waarheen. Hulle lewe sinvolle lewens, tevrede in die genade van die Here.
Dit is ʼn paslike gedeelte vir ouers wat kinders grootmaak, maar ook vir elke ander mens – kies die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag. Kies wysheid, en wysheid begin by die dien van die Here. Dan sal jy altyd raad hê; altyd moed; altyd hoop. Jy sal self daarby baat, en so ook elkeen met wie jy saam op pad is.
Dr Piet van Staden, Emeritus/Stellenbosch/Worcester