Dagboek 2021 – 16 Junie
Jeugdag vier of nie?
Bybelteks(te)
HANDELINGE 2
Petrus se toespraak op die pinksterdag
Dit is vandag Jeugdag en ek moet erken ek wonder telkens oor die viering van hierdie dag. Persoonlik voel ek ongemaklik met die eensydige politieke konneksie, maar aan die ander kant besef ek daar kan waarde in die viering van so ’n dag wees. Ons kan die dag, wat aan ons op die kalender gegee word, nuut en vars inkleur om vir ons ’n geestelike feesviering te word. Op hierdie dag kan ons spesifiek kyk na wat ons by kinders kan leer. Hier dink ons aan Jesus se woorde dat ons nie in die koninkryk van God kan ingaan as ons nie eers soos die kindertjies word nie. Ons kan ’n dag soos hierdie aan so ’n vraag wy.
Ons wêreld worstel met ’n vraag na sosiale geregtigheid. In 1 Korintiërs 13 sê Paulus liefde beteken onder andere dat reg sal geskied. Sosiale geregtigheid is inderdaad ’n netelige onderwerp, maar ’n belangrike onderwerp waaraan die kerk en gelowiges moet deelneem, en ek oordeel Jeugdag kan die ruimte vir die debat skep. Christengelowiges moet aan hierdie debat deelneem en dan nie menseregte na die tafel toe bring nie, maar God se liefde in elke vorm waaroor die Bybel praat. Kom ons vier op hierdie dag die volle omvang van die liefde van God.
In die Bybelse tyd was daar ook sosiale ongeregtigheid. Vroue, kinders en slawe was nie so belangrik soos mans nie. Die mense van daardie tyd het die wêreldbevolking opgedeel in sosiale groepe, te wete belangrike en minderwaardige groepe. Die gebruike het oorgespoel na hul godsdiens, en dit is wat Jesus ook kom verander het. Sosiale reg vir alle mense is deel van God se liefdeswerk. In ons teks word, teen die gebruike van daardie tyd in, alle groepe mense gelykgestel – ook kinders. Ons lees dat kinders, op dieselfde tydstip as volwassenes, die Heilige Gees ontvang het.
Laat ons hierdie Jeugdag afsluit deur ’n ou gesegde nek om te draai, naamlik dat kinders die kerk van die toekoms is. Die Bybelse waarheid is: Kinders is die kerk van vandag!
Ds Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein