Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 16 Julie

Die liefde as gawe van die Gees

Bybelteks(te)

1 KORINTIËRS 13

Die liefde

1Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is:

Al praat ek die tale van mense en engele,

maar ek het geen liefde nie, het ek 'n stuk klinkende metaal, 'n galmende simbaal geword.

2Al het ek die gawe van profesie

en ken ek al die geheimenisse

en besit ek al die kennis,

en al het ek al die geloof om berge te versit,

maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.

3Al deel ek al wat ek het aan ander uit,

en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem,

maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.

4Die liefde is geduldig,

die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.

5Dit handel nie onwelvoeglik nie,

soek nie sy eie belang nie,

is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.

6Dit verbly hom nie oor onreg nie,

maar verheug hom oor die waarheid.

7Dit bedek alles,

glo alles,

hoop alles,

verdra alles.

1 KORINTIËRS 13:1-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

In 1 Korintiërs 13 wys die apostel Paulus ons wat die heel beste gawe van die Heilige Gees is, en dit is die liefde. Hy doen dit deur die gawe van die liefde te vergelyk met ander gawes van die Heilige Gees. Hy verwys onder andere na die spreek in tale, en maak dan die opmerking: Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ’n stuk klinkende metaal, ’n galmende simbaal geword. In die gemeente in Korinte was daar mense wat op ’n liefdelose wyse opgetree het, deur te dink hulle is beter as ander omdat hulle onder leiding van die Gees vreemde tale kon praat. Paulus wys hierdie houding af, en sê dat as ons tale gebruik en ons is tegelykertyd liefdeloos, dan is die gawe van tale totaal nutteloos. Dan word dit soos ’n galmende simbaal – oorverdowend maar betekenisloos.

Watter liefde is hier ter sprake? Wat is die gawe van die liefde wat die Heilige Gees aan ons gee? Die antwoord vind ons in Jesus se woorde in Matteus 22, wanneer die skrifgeleerdes Hom uitvra oor die groot gebod. Jesus leer ons: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag, en jou naaste soos jouself. Dit is alleen deur die kragtige werking van die Heilige Gees dat ons leer om God lief te hê, en ons naaste soos onsself.

Dit is opvallend dat die apostel Paulus nie ’n definisie van liefde probeer gee nie. Al wat hy doen, is om ons te wys wat liefde doen. Dit sluit ook aan by wat Jesus geleer het. Jesus het in sy prediking nie lang en geleerde toesprake gehou nie; Hy het die mense geleer om God en medemens met die mond en met die hand te dien. Liefde is die kenmerk van ’n Christen. Na alles: Die Skrif leer ons dat God Liefde is!

Prof Wim Dreyer, Universiteit van Pretoria

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS