Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 16 Desember

Die Seun bring lig in ons donker wêreld

Bybelteks(te)

JESAJA 9

1Die volk wat in donkerte geleef het, het 'n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het 'n lig geskyn.

2U het dié wat nie meer 'n nasie was nie, baie gemaak,

hulle blydskap groot gemaak.

Hulle het hulle in u teenwoordigheid verbly

soos mense bly is in die oestyd,

soos hulle juig wanneer hulle die buit verdeel.

3Soos die dag toe Midian verslaan is,

het U die juk verbreek wat op die volk gedruk het,

die stok waarmee hulle geslaan is, waarmee hulle gedryf is.

4Elke soldateskoen wat in die oorlog gebruik is,

en elke uniform wat met bloed bevlek is, sal verbrand word,

deur die vuur verteer word.

5Vir ons is 'n Seun gebore,

aan ons is 'n Seun gegee;

Hy sal heers, en Hy sal genoem word:

Wonderbare Raadsman,

Magtige God,

Ewige Vader,

Vredevors.

6Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.

JESAJA 9:1-6AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hierdie verlossing wat Jesaja in die toekoms sien, word aan die nuwe Dawid verbind. Hy sal as Messiaskoning gekroon word. In Israel het dit só gewerk dat elke nuwe koning as seun van God aangeneem word.

Daarom sing die volk: Vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee. Hierdie uitroep is ook in die verlede tyd, so asof dit reeds gebeur het. En tog, dit sou eers sewehonderd jaar later gebeur. Heeltemal tereg het ons 1983-vertaling Seun met ’n hoofletter gespel.

Met sy troonbestyging sal hierdie Messiaskoning vier nuwe name ontvang:

  • Wonderbare Raadsman: Hy sal geen raad van ander nodig hê nie, want God die Vader is sy raadgewer.
  • Magtige God: Hierdie Messiaskoning is God se direkte verteenwoordiger op aarde – wie Hom sien, sien God. Johannes 14:11 stel dit so: Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My. Die oudste Christelike belydenis was immers net drie woorde: Jesus is Here – dit is dieselfde as God.
  • Ewige Vader: Soos dit ’n goeie koning betaam, sal Hy vir al sy onderdane ’n vaderfiguur wees, en Hy sal altyd vir hulle sorg. So ver as wat ’n mens in die verlede kan terugkyk en so ver as wat ’n mens die toekoms kan intuur, so ver strek sy Vaderskap.
  • Vredevors: Onder sy heerskappy sal daar harmonie wees sodat elkeen God ongehinderd kan dien.

Hierdie Messiaskoning sal op die troon van Dawid sit en vir altyd regeer. In die Ou Testament was hierdie spore nog vaag, die volk was onseker: Is hierdie persoon van wie Jesaja praat ’n Goddelike figuur, of iemand uit die koningshuis van Dawid?

In die Nuwe Testament ontmoet hierdie twee lyne mekaar: Jesus is ’n nakomeling van Dawid, en Hy is tegelyk die Gestuurde van God, Seun van God. Hy is ons Messias, ons Verlosser. Ons kan op Hom vertrou, want Hy het reeds lig in ons donker wêreld gebring. Ons kan moed skep en leef.

Gesang 345:2 en 4

Ds Petri de Kock, Pierneef

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS