Dagboek 2021 – 16 Mei
Vergif-tig of vergif-nis?
Bybelteks(te)
GENESIS 45
Ek wonder of daar ’n mooier oomblik in mense se lewens kan wees as wanneer hulle mekaar onvoorwaardelik vergewe. So ’n emosiebelaaide oomblik van vergifnis gebeur tussen Josef en sy broers.
Dit is ’n besonder brose oomblik wanneer Josef sy broers omhels en soen – hulle wat hom jare gelede afgeskryf het en laat wegvoer het na Egipte omdat hulle hom nie voor hul oë kon verdra nie. Josef, die dromer, sy pa se witbroodjie, met sy spesiaal gemaakte kleed, was ’n groot bron van jaloesie en afguns in hul lewe. Hulle staan voor Josef, nou die onderkoning van Egipte – uitgelewer aan hom – en Josef kies om hulle te vergewe, in plaas daarvan om jare se opgekropte gevoelens oor hulle te wreek. Dit is ’n brose oomblik – die oomblik van ware vergifnis.
Josef gee ons ’n wonderlike voorbeeld van vergifnis. Maar moenie om die bos gelei word nie: Vergifnis is nie vir een oomblik maklik nie. Dit is popspeel-maklik om eerder vergif-tig te raak, as om vergif-nis deel te maak van jou lewe. Ons menslike natuur het nou maar een maal die geneigdheid om die pad van die minste weerstand te volg – die maklike pad. Jy beland omtrent elke dag op hierdie ongemaklike plek, by die kruispad waar jy ’n keuse moet maak tussen wreek en vergewe. Watter pad gaan jy kies?
Hierdie kruispad in ons elkeen se lewe het twee wyd uiteenlopende eindbestemmings: Die een lei na BITTER via Vergiftig, en die ander bestemming na BETER via Vergifnis. Die Vergifnis-pad na BETER is die pad wat die Here Jesus vir my en jou geloop het. Hy moes ook kies, en genadiglik het hy die pad van BETER via Vergifnis gestap, met ’n kruis op sy skouer, tot op Golgota, sodat ons ook vandag saam met Hom reg kan kies – om te vergewe soos ons onvoorwaardelik vergewe is.
Hier staan ons by die kruispad met die Here se opdrag: Ek het jou vergewe – Ek het die prys betaal. Wat gaan jy daarmee doen? Gaan jy vergewe of vergiftig?
Ds Jimmy Manders, Witfontein