Dagboek 2021 – 17 Mei
Om ander deur Christus se oë te sien
Bybelteks(te)
MARKUS 8
Jesus genees 'n blinde man in Betsaida
Spook jy met jou oë? Daar is baie dinge wat ’n effek kan hê op jou sig. Daar is lui-oog, kleurblindheid, droë-oogsindroom, versiendheid, bysiendheid en ou-oog wanneer jou arms te kort word. Soos ’n fisiese sigprobleem maklik ongenooid toeslaan, kan ’n geestelike sigprobleem ook. Ons geestelike visie is soms ook aangetas. Ons sien met ons eie voorkeure en lense die behoeftes van ander raak, of nie raak nie, net soos ons wil.
Dit is letterlik ’n buitengewone oog-oopmaak-geleentheid wanneer Jesus op ’n blinde se oë spoeg. Dit klink vir die Westerse oor baie vreemd en grillerig, maar dit was tipies van genesers om die “bose oog” se effek af te weer. Spoeg het ’n rol gespeel in antieke genesing. Wanneer die blinde sy oë oopmaak, kan hy sien, maar nie helder en duidelik nie: Hy kon nie mense van bome onderskei nie. Hy kon slegs die beweging van mense sien. Bome kan mos nie rondloop nie.
Jesus het hom weer aangeraak, en toe kon hy alles helder sien. Dit lyk vir my baie van ons is soos hierdie blinde man – ons het Jesus ontmoet en Hy het ons toe oë oopgemaak, maar ons sien mense steeds nie baie duidelik nie. Ons het almal ’n “wasige lens” – ons eie voorveronderstellings, reaksies en oordele wat nogal ’n groot invloed uitoefen op hoe ons Jesus, ons wêreld en ander mense sien.
Mag ons ander sien soos Jesus hulle sien. Twee lense waardeur Jesus na mense kyk, kry ons in Matteus en 1 Samuel: Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos… (Matt 9:36). En: Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike (1 Sam 16:7). Ons het nodig om ons oë vir die Here te gee. Jesus se lens was omgee en barmhartigheid. Vra God om jou te help om ander deur Christus se oë te sien.
Ds Jimmy Manders, Witfontein