Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 15 Mei

Staan ons in mense se pad?

Bybelteks(te)

HANDELINGE 8

Filippus en die Etiopiër

26'n Engel van die Here het vir Filippus gesê: “Maak jou klaar en gaan teen die middag na die pad wat van Jerusalem af Gasa toe loop.” Dit is 'n stil pad.

27Filippus het toe klaargemaak en gegaan.

'n Ontmande Etiopiër wat 'n hoë pos beklee het aan die hof van die kandake, soos die koningin van Etiopië genoem is, en wat haar geldsake beheer het, het na Jerusalem toe gekom om te aanbid. 28Hy was nou op pad terug en het op sy wa gesit en lees uit die profeet Jesaja. 29Toe sê die Gees vir Filippus: “Gaan loop saam met daardie wa.”

30Filippus het daarheen gehardloop en gehoor dat die man uit die profeet Jesaja lees. Hy vra toe vir hom: “Verstaan u wat u lees?”

31Die Etiopiër antwoord: “Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?”

Hy het Filippus gevra om op te klim en by hom te kom sit. 32Die Skrifgedeelte wat hy gelees het, was dit:

“Soos 'n skaap is Hy gelei om geslag te word;

en soos 'n lam wat stil is as hy geskeer word,

het Hy nie sy mond oopgemaak nie.

33In sy vernedering het daar nie reg aan Hom geskied nie.

Wie sal van sy nageslag kan vertel?

Sy lewe op aarde word beëindig.”

34Die amptenaar vra toe vir Filippus: “Sê vir my, asseblief, van wie praat die profeet hier, van homself of van iemand anders?”

35Filippus het by hierdie Skrifgedeelte begin en die evangelie oor Jesus aan hom verkondig.

36Onderweg kom hulle toe by water aan, en die amptenaar sê: “Hier is water. Wat verhinder dat ek gedoop word?”

38Toe het hy die wa laat stilhou. Filippus en die hofdienaar het albei in die water in gegaan, en Filippus het hom gedoop. 39Toe hulle uit die water kom, het die Gees van die Here vir Filippus weggeneem. Die amptenaar het hom nie meer gesien nie en het sy reis met blydskap voortgesit.

40Filippus is later in Asdod aangetref. Hy het daarvandaan deur al die dorpe gegaan totdat hy in Sesarea gekom het, en oral het hy die evangelie verkondig.

HANDELINGE 8:26-40AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wanneer Filippus die Etiopiese man op die pad na Gasa teëkom, sou hy tradisioneel moeilik met die man kon meng. Behalwe vir die geografiese, etniese en kulturele grense, was die grootste grens in hierdie gedeelte nie die Etiopiër se velkleur, taal, hoë posisie in die koningin se hof of land nie, maar die feit dat hy “ontman” is. Die Etiopiër se status as gekastreerde man sou verhoed het dat hy ten volle as ’n godsdienstige Jood in die tempel sou kon deelneem.

Dit is tog verrassend om dan in hierdie gedeelte te lees dat, ten spyte van al die goed wat teen die Etiopiër tel, van al die grense wat dit onwaarskynlik maak dat hierdie man in God sal glo, hy tog in sy wa besig is om hardop, soos die gebruik in daardie tyd was, uit die boek Jesaja te lees. Hierdie man is soekend na die Here en hy kort iemand om hom te lei en te help op hierdie pad. Wanneer Filippus vir die man vra of hy verstaan wat hy lees, antwoord hy nederig: Hoe kan ek dan as niemand my help nie?

Waarskynlik het Filippus toe besef dat hierdie ’n man is wat opreg op soek is na die Here en om ’n verhouding met Hom te hê. Hy reis al die pad na Jerusalem vir die paasviering, al kon hy self nie eens daaraan deelneem nie. Filippus benut die geleentheid en vertel hom van Jesus Christus, en wanneer hulle by water kom en die Etiopiese man vra wat keer dat hy gedoop word, huiwer Filippus nie. Dit wat in die verlede tussen die Etiopiër en God gestaan het, is nie meer daar nie!

Gebed

Here, help ons dat ons nie in die pad sal wees nie van mense wat op soek is na U. Lei ons asseblief en help ons om die mense wat U oor ons pad stuur, werklik raak te sien as kinders van U. Amen.

Ds Erika Ferreira, Bellville

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS