Dagboek 2021 – 15 Maart
Die stilswye van Jakob
Bybelteks(te)
GENESIS 34
Edmund Burke het gesê dat al wat nodig is vir boosheid om te triomfeer, is dat goeie mense niks doen nie. Die ontstellendste van Dina se verhaal is dat haar vader, Jakob, totaal afwesig is en niks doen of sê nie oor hierdie verskriklike onreg wat sy dogter aangedoen is. Jakob, as haar vader en voog, was die eerste persoon in die patriargale samelewing van die antieke Nabye Ooste wat verantwoordelik was vir die veiligheid van sy gesin. Hierin het Jakob klaaglik misluk. Die Skrifgedeelte stel Jakob voor as ’n byna patetiese figuur. Hy bly passief terwyl sy seuns in die veld is. Hy wag op die terugkeer van sy seuns voordat hy enigiets onderneem. Jakob openbaar uiterste swak leierskap en laat sy dogter, Dina, gruwelik in die steek.
Vir ons as gelowiges is die stilswye oor onreg dikwels selfs erger as die onreg self. Wanneer growwe menseregteskendings of brutale geweld plaasvind en daar is geen veroordeling daarvan of geen ingrype deur die owerhede nie. Wanneer hulle wat veronderstel is om ons te beskerm passief is, en ongeërg met mense se verliese omgaan.
Van gelowiges durf dit nie waar wees nie. Ons leer Jesus Christus in die Evangelies ken as die Een wat by uitstek onreg aan die kaak stel. Jesus daag die patriargale en verdrukkende strukture van sy tyd sonder versuim of vrees uit. Jesus tree op radikale wyse in vir die verontregtes. Vandaar die beskouing deur die Joodse godsdienstige leiers dat Jesus ’n rebel was wat die bestaande orde en reëls van sy tyd bevraagteken en blatant uitgedaag het. Jesus het nie oor onreg geswyg nie. Jesus het nie onreg verdra nie. Waar onskuldige en weerlose mense uitgebuit is, het Hy opgetree. Jesus keer nie ’n blinde oog of skuif die verantwoordelikheid af op ’n ander nie. Hierin is Jesus in kontinuum met die etiek van Deuteronomium en die appèl van profete soos Amos. ’n Gelowige kan nie seën van God verwag terwyl sy medemens verontreg word nie. ’n Gelowige durf nie swyg nie.
Dr Elritia le Roux, Middelburg