Dagboek 2021 – 15 Desember
God se lig in ons donker wêreld
Bybelteks(te)
JESAJA 9
As ons die situasie in ons land in oënskou neem, dan lyk ons toekoms donker: swak ekonomiese groei, swak dienslewering en ’n infrastruktuur wat in duie stort. En asof dit nie genoeg is nie, is daar nog die krisis van klimaatsverandering. Gelowiges is egter nie geroep om mekaar die swaarmoedigheid in te praat nie. ’n Somber woord is nooit die laaste woord van God, ons Vader nie. Kyk ’n bietjie terug op jou lewenspad, jou ervaring in die geloof tot hiertoe. Jou hemelse Vader het nog altyd oor jou gewaak, selfs al was jy nie daarvan bewus nie.
Ons word genooi om verby die onmiddellike, donker omstandighede te kyk en God se toekoms raak te sien. Só was dit in Israel van ouds. ’n Nuwe Dawid uit die geslag van Dawid sou ’n vrederyk stig waaraan daar geen einde sou wees nie. Voor dit sou gebeur, was dit donker in Israel. Tiglat Pileser van Assirië het die noordelike stamme van Israel in 732 vC binnegeval en die lewe vir hulle bitter moeilik gemaak. Hulle het in donkerte geleef.
Die profeet Jesaja was egter so seker van uitkoms, hy praat in ons gelese gedeelte in die verlede tyd: Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ’n lig geskyn. Hy praat hieroor asof dit reeds plaasgevind het.
God gaan weer die volk se blydskap groot maak, en dan gebruik Jesaja twee beelde om dit te illustreer: soos wanneer mense bly is in die oestyd, en soos wanneer soldate bly is na ’n oorwinning. Vir blydskap in die oestyd moes die Here eers reën gegee het sodat daar wasdom en groei kon wees. En soldate is altyd bly oor ’n oorwinning, want dan kan hulle die buit verdeel en na hul geliefdes terugkeer.
God gaan ingryp, Hy gaan die juk wat op sy volk rus, verbreek. Hulle sal weer die vreugde van verlossing smaak. God doen dit.
Gesang 345:1,3
Ds Petri de Kock, Pierneef