Dagboek 2021 – 14 Mei
Om te wag
Bybelteks(te)
PSALMS 130
In die tyd waarin ons lewe, hou ons nie daarvan om te wag nie. O, nee! Ons dae en skedules is oorvol. Ons kan dadelik en gerieflik kry wat ons ook al nodig het. Ons kan na enige plek gaan, enigiets gaan doen en enigiemand gaan sien. Tog, elke nou en dan word ons wel geforseer om halt te roep – dalk as gevolg van ons gesondheid, werkloosheid of ’n wêreldwye pandemie. Dan strek die dae voor ons uit en wonder ons hoe ons dit gaan vul. Hoe gaan ons onsself besig hou? Hoe gaan ons die tyd omkry terwyl ons wag? Hoe gaan ons keer dat ons nie van ons kop af raak nie?
Ons mense het hul vermoë om te wag verloor. Wat dit hartseer maak, is dat gelowiges eintlik mense is wat in wese wag. Ons behoort eintlik die kenners te wees! So baie van ons Godsdiens en ons verhouding met die Here het te doen met wag! Ons wag op die dag van die Here. Ons wag vir sy liefde en genade. Ons wag vir sy uitkoms en hulp. Ons wag vir sy insig en wysheid. Vir meer as twee duisend jaar wag ons nou al vir daardie eendag wanneer Hy weer in heerlikheid sal kom om dit wat gebroke is, weer reg en heel te maak.
Om te wag, beteken ook nou nie om agteroor te sit en heeldag TV te kyk nie. Terwyl ons wag, gebruik God ons steeds in die wêreld om sy wil te laat geskied. Ons lewens behoort net nie so oorvol en oorlaai te wees met dinge, dat ons nie eens meer onthou dat ons altyd eerstens op die Here wag nie.
Mag ons dus saam met die Psalmdigter bid: Here, ek stel my vertroue in U! Ek wag geduldig en met afwagting op die vervulling van u woord. Ons weet ons kan op U en u beloftes en liefde staatmaak, so seker soos wat die son môre sal opkom. Amen.
Ds Erika Ferreira, Bellville