Dagboek 2021 – 14 Maart
Sondag van Laetare (Wees bly!)
Bybelteks(te)
JESAJA 54
My liefde vir jou sal nooit verdwyn nie
Hierdie perikoop bevat van die mooiste poësie in die Bybel. Die woorde straal van die krag en liefde van die Here ons God. Dit herinner ons aan God se barmhartigheid en genade. Dit herinner aan sy verlossingsdade en sy getrouheid aan sy vredesverbond.
Hier word die onvrugbare vrou opgeroep om haar te verheug. Dit is die oeroue motief van die klag van die kinderlose vrou, die een wat deur die gemeenskap beskaam is en beskou is as van God verlaat. Onvrugbaarheid word geassosieer met onveranderlike verstotenheid. Die beeldspraak word hier van toepassing gemaak op die volk van God.
Die parallel tussen die onvrugbare, kinderlose vrou en die volk Israel lê daarin dat, soos die onvrugbare vrou deur die res van die gemeenskap tot skande gemaak word, die volk Israel, omdat hulle deur die Babiloniërs verslaan is en in ballingskap weggevoer is, in die oë van die ander volke van God verlate en verstoot is. Daar was tog geen duideliker bewys dat God sy volk verlaat het as die feit dat Hy hulle nie van die Babiloniërs gered het nie en toegekyk het terwyl die tempel in Jerusalem vernietig word! Dit is juis hierdie volk wat nou tot jubeling opgeroep word, want daar kom ’n einde aan die bespotting wat hulle moes verduur. Verse 7 tot 10 is niks anders nie as ’n liefdesverklaring. Dit is die Here, die Verbondsgod, wat hier aan die woord is.
Die toorn van God gaan verby; dit duur net ’n kort oomblik, maar God se barmhartigheid en genade duur ewig. Dit is waaroor ons ons moet verheug. Die sleg gaan verby, maar die heerlikheid duur vir ewig. Dan sluit die profeet sy pragtige gedig af met die geloofsverklaring dat die berge kan padgee en die heuwels kan wankel, maar God se liefde verdwyn nooit en sy vredesverbond met ons wankel nooit.
Hierdie teks roep ons op om ons hele lewe met al ons hoogtepunte en laagtepunte in die lig van God se genade en sy onwrikbare vredesverbond te evalueer.
Dr Elritia le Roux, Middelburg