Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 14 Desember

Jesus is nie net ’n lydende Messias nie

Bybelteks(te)

MARKUS 9

Die verheerliking op die berg

2Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle op 'n hoë berg gebring waar hulle heeltemal alleen was. Toe het sy voorkoms voor hulle oë verander, 3en sy klere het blink geword, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie. 4Elia en Moses het toe aan hulle verskyn en met Jesus gestaan en praat.

5Toe sê Petrus vir Jesus: “Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”

6Hy het nie geweet wat hy sê nie, so verskrik was hy saam met die ander.

7Daar het toe 'n wolk gekom wat sy skaduwee oor hulle laat val het; en uit die wolk het daar 'n stem gekom: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.”

8En meteens, toe hulle weer kyk, sien hulle niemand meer nie, net Jesus alleen by hulle.

MARKUS 9:2-8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Kind wat in ’n nederige stal gebore is, was bestem om vir almal te ly en te sterf. Maar Hy is nie net ’n lydende Messias nie. Tydens die verheerliking op die berg ken die Vader eer en glorie toe aan sy Seun.

Ses dae vantevore het Petrus vir Jesus berispe toe Hy oor sy komende lyding en sterwe gepraat het. Jesus het skerp daarop gereageer en opnuut bevestig dat Hy die Lam is wat die sonde van die wêreld wegneem.

Die Vader reageer daarop deur Jesus se voorkoms te verander – sy gedaante en klere het blink en spierwit geword. ’n Goddelike heerlikheid het Hom omstraal. Dit herinner sterk aan die Goddelike verskynings in die Ou Testament wat deur lig, gloed en vuur begelei is.

Die gebeure tans vind ook op ’n berg plaas, dis feitlik identies aan dié van die Ou Testament. Dit raak duidelik wat Markus by sy lesers wil inprent: Jesus is nie net ’n lydende Messias nie, Hy is ook die Seun van God in heerlikheid. Drie dissipels is ooggetuies van die ware aard van Jesus se identiteit: Hy is waarlik Koning, met heerlikheid en majesteit omgewe.

En twee van die grootste figure in die Ou Testament het met Hom gestaan en praat: Moses, die verteenwoordiger van die wet, en Elia, die verteenwoordiger van die profete. Hulle praat met Hom wat die wet en die profete kom vervul het. Hy is dus groter as albei.

In hierdie Man het daar vervulling, volheid en lewe gekom. Ons hoef na niks meer te soek nie – Jesus alleen, met Hom, moet ons tevrede wees. Wat bedoel Petrus met sy aanbod om drie hutte te bou? Hierdie paar oomblikke is vir Petrus wonderlik, hy wil nie hê dit moet verbygaan nie. Hier voel hy goed, hier wil hy bly – by só ’n Messias. Petrus het klaar vergeet wat ses dae gelede gebeur het, dat Jesus se lyding sy verheerliking moet voorafgaan en dat ons Hom daarin moet volg.

Gesang 393: 3-4

Ds Petri de Kock, Pierneef

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS