Dagboek 2021 – 13 Mei
Is daar padaanwysings?
Bybelteks(te)
JOHANNES 14
Jesus gaan na sy Vader toe
Jesus gaan nie meer lank by die dissipels wees nie, dus berei Hy hulle voor vir wat volgende op hulle wag. Hy vertel vir hulle Hy gaan na die huis van sy Vader om ’n plek vir hulle gereed te maak, en Hy sê ook dat die dissipels al klaar weet hoe om daar uit te kom.
Ek kan my verbeel hoe die dissipels, wat daar rondom Jesus was, verward na mekaar kyk en hul skouers optrek. Waar is hierdie plek waarvan Jesus praat? Miskien kan Jesus vir hulle padaanwysings of ’n adres gee? As enige van hulle ’n foon gehad het, kon hulle miskien vir die GPS-koördinate gevra het. Uiteindelik is dit Tomas wat vra: Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?
Jesus antwoord sy vraag met die baie bekende: Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie… Jesus vertel die dissipels, en so ook vir ons, hoe ons oor die “waarheen” Hy op pad is moet dink: na die Vader is ’n verhouding, nie ’n plek nie. En wat die pad wat Hy vat betref, die een waaroor die dissipels so onseker is: Jesus verseker hulle dat dit Hy self is. Op hierdie weg is ons saam met Jesus op reis. Die lewe saam met Hom is nie ’n bestemming of iets om te bereik nie, dit is eerder ’n manier van wees en word. Jesus gaan om ’n plek gereed te maak, want Hy is lief vir hulle.
Deur die hele Evangelie van Johannes probeer die skrywer met ons deel hoe belangrik dit is om Jesus Christus te ken en om ’n verhouding met Hom te hê. Dit is dan dat ons in God se teenwoordigheid kom en naby aan die Vader is, die Een wat vir ons sorg en só lief is vir ons dat Hy sy enigste Seun gestuur het vir ons onthalwe.
Ds Erika Ferreira, Bellville