Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 13 Maart

Dina, die onteerde

Bybelteks(te)

GENESIS 34

Dina en die mense van Sigem

1Dina, die dogter wat deur Lea vir Jakob in die wêreld gebring is, het op 'n keer gaan kuier by die dogters van die omgewing. 2Toe Sigem seun van die Hewiet Gamor, 'n volksleier, haar sien, het hy haar gegryp en met haar gemeenskap gehad. Hy het haar verkrag.

GENESIS 34:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wanneer onskuldige mense ly, sukkel ons om dit te verstaan. Ons het nie antwoorde op die onverdiende swaarkry van goeie, Godvresende kinders van God nie. Ons lees hier van Dina; ’n onskuldige jong dogter uit die huis van die aartsvader Jakob. Sy gaan kuier bloot by die dogters van Sigem. Haar bedoelings was suiwer en opreg. Volgens die konvensie van die antieke wêreld moes die veiligheid van die vreemdelinge prioriteit geniet. Dina is ’n vreemdeling in Sigem en haar verwagting was gasvryheid en beskerming.

Maar hier gebeur ’n gruwelike ding met haar. Sy word die slagoffer van die ergste vorm van sinnelose geweld. Haar liggaam, maar ook haar totale menswees, word geskend.

Dina word ’n voorbeeld van die lot van soveel vroue. Wêreldwyd, maar ongelukkig veral in Suid-Afrika, word baie vroue in hul eie huise en familiekringe geweld aangedoen. Die ruimte wat aan hulle veiligheid en beskerming moes bied, word hul heel gevaarlikste ruimte. Die huis, die familie, die plek van geborgenheid en sekuriteit, word die plek van geweld en verontmensliking.

Die kerk van Jesus Christus durf nie hierdie skrikwekkende werklikheid ignoreer nie. Gelowiges durf nie passief staan en toekyk waar verbondskinders van die Here God hul menswaardigheid ontneem word nie. Die kerk van Jesus Christus behoort by uitstek ’n plek van veiligheid en geborgenheid te wees – ’n plek waar verwondes en onteerdes genesing en heling kan vind.

Waarom word soveel kosbare mense slagoffers van hierdie sinnelose geweld? Waarom gryp die Here nie in nie? Dit is vrae waarmee gelowiges vir eeue lank worstel: die Here God se oënskynlike afwesigheid wanneer onskuldiges ly. Maar is die Here werklik afwesig? Die Here, die Verbondsgod van Israel, is by uitstek die teenwoordige God. Die God wat IS. Die God wat naby diegene is wat seer het. Die God wat sy absolute solidariteit met die noodlydendes in Jesus Christus se lyding en sterwe aan die kruis geopenbaar het. Wanneer ons vra na die teenwoordigheid van God, is dit nêrens so tasbaar nie as in die lydende Christus aan die kruis. Dáár is God.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS