Dagboek 2021 – 14 Julie
Die Heilige Gees en ons…
Bybelteks(te)
HANDELINGE 1
Die belofte van die Heilige Gees
In die Hervormde Kerk het die werk van die Heilige Gees vroeër jare min aandag ontvang. Daar is gefokus op God die Vader wat vir ons sorg, en Jesus Christus wat ons verlos het. Die Heilige Gees was iewers op die agtergrond, as die Gees wat van die Vader en die Seun uitgaan en eintlik maar net doen wat die Vader en die Seun beveel, so asof die Heilige Gees derde in rangorde is. Daarteenoor is dit opmerklik hoe belangrik die Heilige Gees in die tyd van die Kerkhervorming was. Hervormers soos Luther en Calvyn het die Persoon en werk van die Heilige Gees baie sterk beklemtoon. Hulle het veral beklemtoon dat die Woord van God en die Heilige Gees onlosmaaklik aan mekaar verbind is. Luther stel dit onomwonde dat die Bybel eers die lewende Woord van God word, as die Heilige Gees die woorde vir ons lewend maak. Calvyn het daarop gewys dat die verkondiging van die kerk en die kerk self totaal onmoontlik is sonder die werking van die Heilige Gees.
In Handelinge 1 lees ons dat Jesus by geleentheid vir sy dissipels gesê het dat die Vader ’n belofte gemaak het, naamlik dat hulle die Heilige Gees as gawe sal ontvang. Hulle sal krag van God ontvang, met die bedoeling dat hulle in die wêreld sou uitgaan en van Jesus Christus sou getuig. Die gawe van die Heilige Gees beteken verder dat God altyd by sy kinders bly. Die uitstorting van die Heilige Gees gaan eintlik om twee sake: (1) God rus deur die Gees sy kerk toe om in die wêreld uit te gaan en die evangelie te verkondig, en (2) God maak ’n belofte dat Hy altyd by ons is.
Ons mag nooit die werk van die Heilige Gees in ons onderskat nie. God is deur die Gees altyd by ons en werk met krag in ons. Dit kan ons glo.
Gebed
Here, stuur u Gees en skep en rus ons toe om diensbaar in u koninkryk te wees. Amen.
Prof Wim Dreyer, Universiteit van Pretoria