Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 12 Mei

Dawid se loflied

Bybelteks(te)

PSALMS 145

Ek wil getuig van u magtige dade

1'n Loflied van Dawid.

Ek wil u lof verkondig,

my God en Koning,

ek wil u Naam altyd loof.

2Elke dag wil ek U loof,

ek wil u Naam altyd prys.

3Die Here is groot, alle lof kom Hom toe,

sy grootheid is ondeurgrondelik.

4Geslag na geslag prys wat U doen

en vertel van u magtige dade,

5van die luister, die heerlikheid van u majesteit.

Ek wil getuig van u magtige dade,

6sodat die mense oor u wonderdade sal praat.

Ek wil van u grootheid vertel.

7Sonder ophou moet hulle u groot goedheid verkondig

en oor u reddingsdade jubel.

8Genadig en barmhartig is die Here,

lankmoedig en vol liefde.

9Die Here is vir almal goed

en barmhartig oor alles wat Hy geskep het.

10Almal wat deur U geskep is, loof U, Here,

en u troue dienaars prys U!

11Hulle vertel van u koninklike mag

en getuig van u groot krag.

12Die mense moet weet van sy krag,

van sy koninklike mag en majesteit.

13U koningskap is 'n koningskap vir alle tye,

u heerskappy strek oor die geslagte heen.

14Die Here help almal op wat geval het.

Hy ondersteun dié wat bedruk is.

15Die oë van almal is op U gerig,

en U gee hulle kos op hulle tyd.

16U maak u hand oop

en skenk u guns in oorvloed aan al wat leef.

17Die Here is regverdig in al sy handelinge,

getrou in alles wat Hy doen.

18Die Here is naby almal wat Hom aanroep,

almal wat Hom in opregtheid aanroep.

19Aan dié wat Hom dien, gee Hy wat hulle vra,

Hy hoor as hulle om hulp roep, en Hy red hulle.

20Die Here beskerm almal wat Hom liefhet,

maar al die goddeloses verdelg Hy.

21Ek sal die lof van die Here verkondig.

Laat al wat leef, sy heilige Naam vir altyd prys.

In hierdie Psalm van Dawid gaan dit eintlik oor een waarheid: Wat waar is aan die begin van die Psalm, is waar aan die einde daarvan, en dít is dat die Here regeer, en dat Hy besorg is oor alles en almal. Die Psalm begin by Dawid self – elke dag wil hy die Here loof. Daarna beweeg dit verder. Van geslag tot geslag behoort die werke van God verkondig en oorvertel te word, sodat die skepping en almal wat God aanbid, sy lof sal besing. Hierdie is nie leë lof nie! Ons hoef God nie te loof en te eer omdat Hy ons gaan straf as ons Hom nie loof nie, of omdat dit verpligtend is nie. Nee! Ons behoort God te loof en te eer vir hoe en wie Hy is. Hy is genadig en barmhartig, vol geduld en liefde. Hy ondersteun almal wat val, help dié wat terneergedruk is. Hy voed ons, sorg vir ons. Hy is by ons.

Ons weet hoe maklik ’n mens struikel en val in die lewe. Dawid het beslis geweet! Ons ken sy geskiedenis, owerspel, moord, die foute wat hy gemaak het as koning, as man en as pa. Ons lees in van sy ander Psalms dat hy dikwels bang en magteloos gevoel het wanneer hy gekonfronteer is met gevare of uitdagings. Maar tog bly die waarheid: God is barmhartig en vol liefde. Hy tel mense op wat val. Hy het Dawid opgetel, en Hy tel ons ook op. Of dit nou oor sonde is, of omdat die lewe ons al een keer te veel geklap het. Psalm 145 herinner ons dat God wat alles gemaak het – die heelal, die sterre –die wonderbare Here is en dat Hy aktief besig is in ons lewens.

Gebed

Here, wanneer ons terugkyk oor ons lewens, word dit duidelik: U is in beheer! U is genadig, barmhartig, geduldig en vol liefde! Here, gee asseblief dat ons dit altyd sal raaksien, dat ons altyd dankbaar sal bly en U sal loof en prys met alles wat ons is. Amen.

Ds Erika Ferreira, Bellville

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS