Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 12 Maart

Die spyskaart of die ete?

Bybelteks(te)

JOHANNES 5

39Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig. 40Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie.

JOHANNES 5:39-40AFR83Maak oop in die Bybelleser

Stel jou voor dat iemand jou probeer oortuig dat die spyskaart in ’n restaurant baie lekkerder smaak as enige dis wat vanuit daardie spyskaart bestel kan word. Of stel jou voor dat die padkaart wat jy in jou hand hou, mooier is as die natuurskone kronkelpad wat dit aandui jy moet ry, of die vashou van die foto van die groot wit strand lekkerder is as om fisies daar te wees. Niemand van ons sal dit glo of aanvaar nie.

Tog is dit wat ons soms doen met die Bybel, en die Een waaroor die Bybel getuig. So baie mense glo die lees van die Bybel kan jou lewe verander. Ander sê weer dat die Bybel rustigheid bring, terwyl nog ander oortuig is daarvan dat die Bybel ons lei om die regte besluite te neem.

Jesus het op ’n keer die volgende gesê: Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig. Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie. Wat leer Jesus ons hier? Dit is nie die Bybel wat red nie, maar die Een van wie die Bybel getuig wat red. Dit is nie die Bybel wat ons leer hoe om reg te lewe nie, maar die woorde van die Een oor wie die Bybel getuig, onder leiding van die Gees, wat ons lei om reg te lewe.

Om die Bybel te verstaan, moet ons Christus ken, nie andersom nie. Om getrou met die Bybel besig te wees, moet ons Jesus getrou volg, elke dag. Ons glo in God, nie in die Bybel nie. Ons glo wel dat die Bybel getuig oor die Een in wie ons glo. Die Bybel verwys nooit na die Bybel self nie. Dit verwys ons na Christus. En wie nie na Jesus toe kom nie, sal nooit die lewe kry nie. Dit is soos om die spyskaart te eet.

Christene moet ’n verhouding met Christus hê, nie met ’n boek nie, al is daardie Boek hoe belangrik vir ons!

Prof Ernest van Eck, Universiteit van Pretoria

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS