Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 13 Junie

Julle sal krag ontvang as die Heilige Gees oor julle kom

Bybelteks(te)

HANDELINGE 1

8Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

HANDELINGE 1:8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Julle sal krag ontvang as die Heilige Gees oor julle kom. Dit is God se belofte aan die dissipels wat nou moet uitgaan om die mense van God te leer, nuwe bekeerlinge te doop en alles te onderhou wat God vra. Ek dink hier aan Paulus se ontberings ter wille van die evangelie. Ook hy kon slegs voortgaan met die krag van die Heilige Gees wat oor hom gekom het.

Alhoewel dit nie vanselfsprekend is vir alle volgelinge om moeg, uitgeput en oorlaai te voel nie, gebeur dit dikwels met mense wat intens besig is met bediening en diens. Alles word net te veel en ons voel die vonk is weg. Wel, hier is ’n belofte van God! Hy sal weer die vuur in ons aansteek, die vonk verskaf, sodat ons met passie in die koninkryk van God kan werk. Ek het al gehoor die oumense sê jy kan nie jouself doodwerk nie. Ek dink jy kán jouself doodwerk. Ek dink jy kan jouself in die koninkryk van God doodwerk. Dit is wanneer jy jou besig hou met die dinge van God en nie die God van die dinge nie. Dit is wanneer jy nie soos die dissipels eers wag (rus of toegerus word) om die Gees van God te ontvang nie. Laat ons ook nie te gou reg wees met ’n wysvinger nie. Dit is menslik om dit oor te kom en dit vra werklik van ons om tot stilstand te kom en introspeksie te hou.

Die krag van die Heilige Gees is nie net bonatuurlike en buitengewone krag nie. Dit is krag om daagliks die wil van God te doen. Krag om ook die druppels in die emmer te wees. ’n Mens kan nie in eie krag van God getuig nie. Daar is in hierdie vers ’n proses: Eers moes die dissipels wag om die Heilige Gees te ontvang, daarna wag hulle vir krag van God, en dan moet hulle uitgaan om te getuig, soos ook ons vandag nog.

Ds Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS