Dagboek 2021 – 12 Junie
Ons moet by God se plan aanpas
Bybelteks(te)
HANDELINGE 1
Vir die Jode was die Romeinse politieke en militêre oorheersing ’n bitter pil om te sluk. Die dissipels het dieselfde versugting gehad, naamlik dat hulle uitsien na ’n nuwe koninkryk. Een waar Jesus self die koning en regeerder is en nie die Romeine en hul strukture nie. So sterk was hul politieke behoeftes dat dit vervleg geraak het met hul godsdienstige verwagtings.
Hierdie uitdaging bestaan vandag nog. Mense vergeet dat Jesus self gesê het dat sy koninkryk nie van hierdie aarde is nie en dat Hy nie belangstel in politieke en militêre mag nie. God se koninkryk kan in enige politieke bestel voortbestaan. Ons fokus moet dus nie op militêre en politieke oorheersing wees nie, maar op die bediening en diens wat by die koninkryk van God pas. Hierdie koninkryk leef ook nou reeds in almal wat sy volgelinge is. Slegs deur die Gees ervaar ons hierdie teenwoordigheid van God in ons gedagtes, woorde en dade.
God bepaal wanneer dinge moet gebeur. Alles gebeur op sy tyd, manier en plek. Ons moet dus leer om nie ongeduldig te raak as dinge in ons lewe ook nie wil verander nie. Dit is nie God wat sy beplanning moet verander om by my drome en verwagtings te pas nie. Dit is ek wat moet aanpas. Dit kry ek reg deur geduldig te wag op God. Geduldig te wag op God se ingrepe, sodat ek daarby kan aanpas. God is die Herder en ons die skape. God is die Weg waarop ons moet wandel.
Gebed
Here God, Vader, Seun en Heilige Gees, laat ons totaal en al volgelinge van U word. Laat ons word wat ons reeds in Christus is. Staan deur u Gees ons hierin by. Laat ons in gees en daad stil word, sodat ons die fluistering van die Gees sal hoor. Amen.
Ds Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein