Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 14 Junie

Van dissipel tot apostel

Bybelteks(te)

HANDELINGE 1

21-22“Daar moet dus nog 'n getuie van Jesus se opstanding by ons gevoeg word. Dit moet een van die manne wees wat saam met ons rondgegaan het die hele tyd toe die Here Jesus in die openbaar opgetree het, vandat Hy deur Johannes gedoop is totdat Hy van ons af in die hemel opgeneem is.”

23Hulle stel toe twee voor: Josef, wat ook Barsabbas of Justus genoem word, en Mattias. 24En die gelowiges het gebid: “Here, U wat die harte van almal ken, wys die een aan wat U uit hierdie twee verkies het 25om as apostel te dien in die plek wat Judas leeg gelaat het toe hy gegaan het na waar hy hoort.”

26Hulle het geloot, en die loting het vir Mattias aangewys. So is hy gekies as die twaalfde apostel.

HANDELINGE 1:21-26AFR83Maak oop in die Bybelleser

In die Evangelies lees ons van die 12 dissipels. Hulle is deur Jesus self uitgesoek om ’n belangrike deel van sy bediening te vorm. Die woord dissipel beteken volgeling of student, en dit was hulle ook terwyl Jesus besig was met sy bediening. In die drie jaar van Jesus se bediening op aarde het hy hierdie studente van Hom toegerus vir hul roeping wat eintlik nog voorgelê het. Hierdie leerervaring sou in die toekoms vir die manne van onskatbare waarde wees. Ons behoort ook in ons gestuurdheid sulke toerustingservarings te hê. Toerusting sal daarom altyd ’n belangrike komponent van ’n gemeente se bediening moet wees.

Met die hemelvaart kry hulle ’n roeping van God om na alle nasies te gaan en die mense van Hom te leer. Dan, in Handelinge, vind die uitstorting van die Heilige Gees plaas en die dissipels word uitgestuur om apostels te wees, gestuurdes – mense wat met gesag namens iemand anders praat. Die apostels was almal ooggetuies van Jesus se bediening en diens en kon dus met gesag daaroor praat. Hulle kon getuig wie Jesus was en wat Jesus geleer het. Dink net aan die impak wat hierdie 12 manne op die verspreiding van die evangelie gehad het: van ’n klein begin tot die groot getalle Jesus-volgelinge wat vandag op aarde wandel.

Met Judas Iskariot wat as gevolg van sy verraad nie meer deel van die 12 was nie, het die oorblywende dissipels besluit om nog iemand te verkies. Hierdie persoon moes ook ’n ooggetuie wees, wat ’n aanduiding was dat Jesus ook ander volgelinge gehad het. Voordat hulle besluit het oor die plaasvervanger, het hulle eers ernstig daaroor gebid. Ons leer ’n waardevolle les uit hierdie optrede. Dink byvoorbeeld hier aan al die redes en argumente wat ons in die verlede gebruik het om ’n vakante standplaas, of selfs ’n vakature in die kerkraad, te vul. In hoeveel van hierdie gevalle was opregte gebed tot God vir wysheid om die regte persoon te kies, ter sprake? Twee persone word geïdentifiseer, en Mattias word aangewys.

Ds Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS