Dagboek 2021 – 11 Mei
Het ons genoeg?
Bybelteks(te)
1 KONINGS 17
Elia is in ’n benarde situasie. Hy vlug vir sy lewe, hy het geen kos of skuiling nie, en boonop is daar ’n droogte in die land! God gryp egter in en stuur Elia na ’n weduwee in Sarfat – dáár sal hy kan hulp kry.
Hierdie weduwee se situasie is egter moontlik nog slegter as Elia s’n. In gewone omstandighede is dinge reeds vir haar as weduwee uitdagend, maar nou – te midde van ’n droogte en met ‘’ jong kind om voor te sorg – is dinge byna onmoontlik! Sy is letterlik besig om met die laaste bietjie wat sy het vir haar en haar seun ’n maaltyd voor te berei wanneer Elia hulp soek. Ek kan my net indink hoe ek sou voel in daardie vrou se situasie: om die klein bietjie wat ek het vir my en my seun te moet deel met ’n vreemde man? Kan hy nie sien hoe sleg dit gaan en hoe min daar is nie?
Maar waar die weduwee net skaarsheid en tekort raaksien, sien Elia oorvloed. Die boodskap aan die vrou is: Moenie bekommerd wees nie, die Here sal sorg. Daar sal genoeg wees. En op die ou end is daar genoeg! Die meel en die olie raak nie op nie. Die weduwee sal vir haar en haar seun kan aanhou sorg.
Te veel kere kyk ons vas in wat ons nie het nie en hoe sleg dit gaan. Tog nooi God ons om anders na die wêreld te kyk – om eerder te sien hoe Hy vir ons voorsien en vir ons sorg te midde van uitdagings of moeilike tye. Oorvloed beteken nie noodwendig derduisende in die bank nie, maar dit kan enigiets wees! Reën na ’n droogte, ’n heerlike koppie tee na ’n lang dag, vriende en familie wanneer jy alleen voel, ’n oproep, ’n drukkie, ons gesondheid, of om te kan lag! Die Here gee vir ons genoeg, ons moet net leer om op Hom te vertrou.
Ds Erika Ferreira, Bellville