Dagboek 2021 – 11 Junie
’n Lamp vir my voet
Bybelteks(te)
PSALMS 119
Psalm 119 is die langste van die 150 Psalms. ’n Besonderse bundel van gedigte en liedere, geskryf deur gelowiges soos Dawid en Asaf en vele ander. Daar is selfs onbekende skrywers wat onder bekende skrywers se name geskryf het, alles in ’n poging om hul kunswerk gelees te kry. Hierdie gedigte en liedere handel oor verhoudings: God-mens, God-skepping, mens-God, mens-mens ,en veral ook die verhouding van die mens met hom- of haarself.
Hierdie verhoudings speel af in ’n gebroke wêreld waar daar oorlog, hongersnood, pes, siekte, vyandigheid, liefdeloosheid en verlies is. Soms is daar in hierdie gebroke wêreld vergifnis, voorspoed, gesondheid, liefde en selfs rykdom. Daarom wissel emosies van negatief tot positief, en dit is in hierdie 150 Psalms opgeteken omdat God dit verstaan. God verstaan en is lief vir die gebroke mens en wil altyd vergewe.
In die gedeelte van Psalm 119 wat ons gelees het, is daar praktiese advies vir donker tye. Die vraag is: Hoe gaan ons vorentoe in sulke donker tye in ons lewens, en hoe gaan ons met ons lewe aan?
Ons kan in hierdie gedeelte twee stukkies waardevolle advies onderskei: (i) Die Woord van God is belangrik, en (ii) gee tree vir tree. Ons hoor die skrywer se noodadvies: Hou jou by God se bepalings, dit is regverdig. Hou jou by die bevele van God en wyk nie daarvan af nie. Lê jou daarop toe om die voorskrifte (van God) tot die einde toe uit te voer. Sonder om in te gaan op wat al die bepalings, bevele en voorskrifte is, kan ons hoor dat dit belangrik is dat ons te alle tye na die wil van God sal luister. Hierdie wil van God is die lamp vir ons voet, die lig wat vir ons die pad vorentoe wys. Die Woord van God is nie ’n skietlamp wat doer ver in die toekoms in wys nie, dit is slegs ’n lig vir die voet. Hieruit wil ek aflei dat ons tree vir tree uit die Woord van God moet leef.
Ds Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein