Dagboek 2021 – 10 Junie
Totstandkoming van die kerk
Bybelteks(te)
HANDELINGE 1
Lukas skryf in ongeveer 70 nC hierdie tweede werk aan Teofilus, aan die “nuwe” kerk van daardie tyd. Hierdie werk het steeds groot waarde vir die kerk van vandag. Hy skryf hier oor die totstandkoming van die Christendom. Belangrike inligting van hoe hulle hulself georganiseer het en hoe uitdagings aangepak en opgelos is. Dié gemeenskap van gelowiges het alles aangepak deur in die opgestane Christus te glo en vas te hou aan die krag van die Heilige Gees. Dié Gees wat hulle in staat gestel het om teenoor ’n vyandige wêreld te getuig deur te dien en waarlik lief te hê.
In vers 4 leer ons iets kosbaar: Ons moet onsself afvra hoe ons dit in die bediening en diens van vandag se gelowiges sigbaar kan maak. Wees geduldig! Moenie halsoorkop in ’n ding inspring nie! Moenie God se plan vooruitloop nie! Wag! Jesus stuur sy dissipels na die wêreld om te gaan getuig, maar daar is ’n opdrag. Die dissipels moet die pas markeer en op God se toerusting wag. Die Vader sal hulle in hierdie voorbereidingstyd voorberei vir die roeping.
Ons kan slegs met impak dien en bedien as ons wag op God se toerusting. God sal ons nie uitstuur met ’n roeping sonder om ons die nodige gawes te gee nie, maar dan moet ons bereid wees om daarop te wag. Soms is ons so besig met die dinge van God dat ons die God van die dinge mis. Ons is so besig dat ons Hom nie hoor of sien in die bediening of diens wat ons wil aanpak nie. Dit is Gód se bediening. Dit is Gód se diens. Wag vir sy tyd.
Wees stil en weet: Ek is die Heer. Ek ken jou pyn, jou donkerste nag. Ek is by jou, Ek gee jou krag. Wees stil en weet: Ek is die Heer. Bly waak en bid; volhard in geloof. Ek is by jou soos Ek beloof. (Gesang 519:2 en 4).
Ds Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein