Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 31 Julie

Moenie mors met dit wat kosbaar is nie

Bybelteks(te)

2 TIMOTEUS 1

1Van Paulus, 'n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, gestuur om die belofte te verkondig van die lewe in Christus Jesus.

2Aan Timoteus, my geliefde seun.

Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here!

Getrouheid aan die evangelie

3Ek dank God, wat ek net soos my voorouers met 'n skoon gewete dien, wanneer ek onophoudelik dag en nag in my gebede aan jou dink. 4Ek onthou jou afskeidstrane en wil jou baie graag weer sien. Dit sal vir my 'n groot vreugde wees. 5Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is.

6Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos 'n vuur weer moet aanblaas. 7Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.

8Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie; en moet jou ook nie skaam vir my wat om sy ontwil 'n gevangene is nie. Inteendeel, dra jou deel van die ontberings vir die evangelie met die krag wat God jou gee. 9Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. 10Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring. 11Van hierdie evangelie het Hy my aangestel as prediker en apostel en leraar.

12Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Maar dit skrik my nie af nie, want ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou.

13Neem die woorde wat jy van my gehoor het, as voorbeeld van gesonde verkondiging en volg dit na in die geloof en liefde wat ons in Christus Jesus het. 14Wat aan jou toevertrou is, is goed. Bewaar dit deur die Heilige Gees wat in ons woon.

2 TIMOTEUS 1:1-14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Een van die mees ikoniese kunswerke is Leonardo da Vinci se 1495-skildery Die Laaste Avondmaal. Dit is eintlik ’n beskilderde muur van die eetsaal in die klooster van die Santa Maria delle Grazie in Milaan, Italië. Die toneel is bekend: Jesus in die middel aan tafel, met die dissipels aan weerskante van Hom. Die oomblik toe Jesus die komende verraad aankondig, vir altyd vasgevang. Elke dissipel reageer anders op die ontstellende nuus wat hulle pas gehoor het. Een van die stukkies detail, amper onopvallend, is die soutpot wat een van die 12 omgestamp het. As jy mooi kyk, sien jy daardie dissipel klem ’n geldsakkie vas in dieselfde hand wat die soutpot omgestamp het. Oënskynlik ’n terloopse aksie, maar ons weet wie die beursie gehou het, ons weet wie die gierige een was. Niemand minder nie as Judas het die soutpot omgestamp.

Ons weet hoe kosbaar sout in die tyd van die Bybel was, tot so ’n mate dat dit gereeld as ruilmiddel gebruik is, en dat Romeinse soldate met sout betaal is. Die woord salaris is afgelei van die Latynse woord vir sout. Ons gebruik nou nog die uitdrukking: Hy is nie sy sout werd nie. En Judas mors dit was kosbaar is. Waarskynlik is dit ’n heenwysing na sy verraad, sy minagting van Jesus se lewe.

En ons word gekonfronteer met die vraag: Hoe maak ek met dit wat vir mý kosbaar is – die dinge wat werklik waarde het soos my geliefdes, en ook ewigheidswaarde het soos my geloof? Die bemoedigende woorde aan die jonge Timoteus spoor ons ook aan: Wat aan jou toevertrou is, is goed. Bewaar dit deur die Heilige Gees wat in ons woon.

Daar is soveel wat kosbaar is in ons lewens. Hoe gaan ons daarmee om? Natuur? Kinders? Gesondheid? Kerk? Ons verhoudings – met ander, met myself en met God? En die evangelie van verlossing? O ja, en wat van tyd?

Wat aan ons toevertrou is, is goed. Kom ons bewaar dit met alles waaroor ons beskik.

Dr Johan van Staden, Sionspoort

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS