Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Breek los – Dag 8

Breek los en laat jou voorbeeld tel

Bybelteks(te)

1 KORINTIËRS 11

1Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg.

1 KORINTIËRS 11:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

ʼn Jong prediker wou graag by die bekende Franciskus van Assisi leer. Die jongman het aangehou totdat Franciskus op ʼn dag ingestem het met die woorde: “Ek gaan vandag by ʼn naburige stad preek. Jy kan saamgaan as jy wil sien hoe ʼn mens dit doen.” Die jongman was baie opgewonde.

Die hele dag het Franciskus en die jong prediker deur die hoof- en agterstrate van die stad gestap. Hulle het met sommige van die inwoners gesels, en ander getroos of met raad bedien. Hulle het deur die loop van die dag met letterlik honderde mense skouers geskuur.

Teen die einde van die dag, toe Franciskus gereedmaak om te vertrek, sê die jong prediker verbaas en ietwat teleurgesteld: “Maar u het dan nooit gepreek of oor Jesus gepraat nie. Was dit dan nie die doel van ons besoek nie?” Franciskus het geglimlag en geantwoord: “Ons het oral gepreek. Baie mense het ons gesien en omdat hulle weet dat ons Christene is, is ons gedrag fyn dopgehou. Dit help immers niks om vir ander te preek as ons lewens nie self ʼn preek is nie.”

Dink vir ʼn oomblik hoe jy optree as ʼn onverskillige bestuurder in die verkeer voor jou insny, as jou knorrige baas jou onnodig uittrap, as jou tiener ʼn sarkastiese opmerking maak, as jy vir die soveelste keer jou huweliksmaat se klere agter hom moet optel of as jou buurvrou se hond weereens gate in jou tuin kom grawe. Tree jy op soos Jesus sou of verloor jy jou humeur terwyl jy skree en skel?

In 1 Korintiërs 11:1 skryf Paulus: “Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg.” Paulus het verstaan dat geen woorde so kragtig is soos sy voorbeeld nie – en juis om hierdie rede het hy dit sy doel gemaak om Jesus se voorbeeld uit te leef.

Kom ons keer terug na wat eintlik belangrik is deur dit ons doelwit te maak om Jesus se voorbeeld te volg. Dít bly immers die kragtigste preek wat jy ooit sal lewer. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS