Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Breek los – Dag 9

Breek los en wen die stryd in jou gedagtes

Bybelteks(te)

ROMEINE 12

2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

ROMEINE 12:2AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KORINTIËRS 10

3Natuurlik leef ons in 'n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie. 4Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies 5en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.

2 KORINTIËRS 10:3-5AFR83Maak oop in die Bybelleser

SPREUKE 21

1Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here;

soos 'n stroom water lei Hy dit soos Hy verkies.

SPREUKE 21:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

ESEGIËL 36

26Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee.

ESEGIËL 36:26AFR83Maak oop in die Bybelleser

PSALMS 37

5Laat jou lewe aan die Here oor

en vertrou op Hom; Hy sal sorg.

Stel jouself die volgende situasie voor: Jy is ’n soldaat is op ʼn missie . Jy en jou medesoldate is gestuur om ʼn gevaarlike vyand te gaan beveg. In die kajuit van die vliegtuig waar julle sit, is julle van kop tot tone gekamoefleer. Die spanning is tasbaar, want julle weet dat julle in lewensgevaar gaan verkeer tydens hierdie missie.

Die vliegtuig land en soos die valdeur oopgaan, klink die eerste skote van die vyand op. Julle is in die middel van ʼn volskaalse oorlog. Meteens tref dit jou: Jy het geen wapens by jou nie. Geen geweer, ammunisie of ʼn handgranaat nie. Jou hart klop vinnig. Jou handpalms sweet. Gaan jy vandag jou lewe verloor?

Dit klink absurd om ʼn oorlog sonder wapens te betree. Tog is dit presies wat ons doen wanneer ons ʼn dag sonder kennis van die Woord van God tegemoetgaan. Die vyand val ons aan met negatiewe gedagtes en sonder die Woord van God kan hy die oorhand kry deur ons depressief en moedeloos te laat.

In Romeine 12:2 lees ons egter: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.” Ook in 2 Korintiërs 10:3-5 lees ons: “Natuurlik leef ons in ʼn menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie. Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig.” Die enigste deel van die wapenrusting waarmee ons die vyand kan aanval, is die swaard, naamlik die Woord van God.

So, wat is die oplossing om die oorwinning te behaal? Wen die stryd oor jou gedagtes. Hoe doen ʼn mens dit? Ons volg Jesus se voorbeeld in die woestyn deur terug te gaan na God se beloftes en die vyand daaraan te herinner.

Kom ons maak dit prakties. Wat is jou uitdaging? Begin om relevante Skrifgedeeltes neer te skryf en te memoriseer. As jy byvoorbeeld konflik in die huwelik beleef en die vyand jou wil laat glo dat jou maat nooit gaan verander nie, kan jy hom aan die woorde in Spreuke 21:1 herinner: “Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here; soos ʼn stroom water lei Hy dit soos Hy verkies.” Ook in Esegiël 36:26 staan geskryf: “Ek sal julle ʼn nuwe hart en ʼn nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ʼn hart van vleis gee.” As jy dalk ʼn krisis beleef en die vyand jou wil laat glo dat die toekoms donker lyk sonder ʼn moontlike oplossing, kan jy hom aan die woorde in Psalm 37:5 herinner: “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”

God se Woord is ons wapen teen die vyand. Kom ons maak ʼn punt daarvan om dit in ons harte te bêre sodat ons onsself nooit op ʼn plek bevind waar die eerste skote begin klap en ons weerloos staan sonder ʼn geweer, ammunisie of ʼn handgranaat om in die gees na te gryp nie. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS