Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Breek los – Dag 7

Breek los en aanvaar jouself

Bybelteks(te)

PSALMS 139

13U het my gevorm,

my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.

14Ek wil U loof,

want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep.

Wat U gedoen het,

vervul my met verwondering.

Dit weet ek seker:

15geen been van my was vir U verborge

toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie,

toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.

16U het my al gesien toe ek nog ongebore was,

al my lewensdae was in u boek opgeskrywe

nog voordat ek gebore is.

17Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God,

hoe magtig hulle almal!

18As ek hulle sou wou opnoem –

hulle is meer as wat daar sand is,

en as ek daarmee klaar is,

sou ek nog steeds met U te doen hê.

PSALMS 139:13-18AFR83Maak oop in die Bybelleser

ʼn Leser skryf op ʼn dag: “Ek is al 43 jaar oud en sukkel my hele lewe lank om myself te aanvaar. Dit sal wonderlik wees om oorwinning hieroor te kry. Help asseblief.”

Sukkel jy ook om jouself te aanvaar? Vergelyk jy jouself gedurig met ander ten opsigte van jou fisieke voorkoms, vermoëns, familie of jou bankbalans terwyl jy minderwaardig voel?

Kom dan vir ʼn oomblik saam met my terwyl ons in die goue straat afstap. Kan jy hoor hoe die getimmer in die verte al harder word soos ons nader stap? Dan bereik ons ons eindbestemming waar groot vet letters teen die deur ons begroet: “Die Hemel se werkswinkel”. Ons loer versigtig by die deur in en wat ons sien laat ons na ons asem snak. Daar is rye en rye neuse, oë, monde, ore, hande, bene en elke ander liggaamsdeel. Dan tref die grootste verrassing ons: In die middel van die vertrek staan ons Meester en Vader, besig om vir nog ʼn nuwe skepsel op sy werkbank ʼn unieke stel te kies – nie net ten opsigte van fisieke voorkoms nie, maar ook ten opsigte van persoonlikheid en lewensdoel op aarde.

Besef jy dat jy ook eens op die werkbank voor God gelê het? Hy het jou ook uniek saamgeweef en niemand op aarde kan jou lewensdoel uitleef behalwe jy nie. Die vyand weet dit en juis daarom wil hy ons oneffektief maak deur gedagtes in ons te plaas om onsself met ander te vergelyk en dan minderwaardig te voel. In Psalm 139:13-18 vind ons egter drie kernwaarhede wat ons kan help om ons uniekheid opnuut te besef – en uit te leef:

  1. 1.God het ons aanmekaargeweef: In Psalm 139:13-15 lees ons: “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ʼn wonderbaarlike wyse geskep … geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.” God het jou geskep soos jy is vir ʼn bepaalde rede en lewensdoel.
  1. 1.God ken ons aantal lewensdae op aarde: In Psalm 139:16 lees ons: “U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.” God weet presies waarheen Hy met jou lewe op pad is.
  1. 1.God het ontelbaar gedagtes oor ons elkeen: In Psalm 139:17-18 lees ons: “Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is …” God het groot drome vir jou lewe.

As jy dus weer begin minderwaardig voel as jy jou mooi vriendin, ryk vriend, gewilde kollega of die vriende met die slim, sportiewe kinders raakloop, gaan staan doelbewus voor die spieël terwyl jy God begin dank vir jou uniekheid (selfs al voel jy glad nie lus om dit te doen nie en selfs al is daar grys hare, ʼn boep, ʼn bles of ʼn skewe neus wat uit die spieël na jou terugstaar). Dank Hom ook vir jou vermoëns, jou persoonlikheid en lewensdoel. Jy mag dalk net verbaas wees oor hoe vinnig die minderwaardigheidsgevoel verdwyn by die besef dat geeneen van “daardie ander mense” oor die potensiaal beskik wat God spesifiek vir jou gegee het om ʼn verskil in die wêreld te maak nie.

Onthou, jy was ook eens op die werkbank. God se unieke pakkie in jou was sy geskenk aan jou. Wat jy daarmee doen, is jou geskenk aan Hom. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS