Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Breek los – Dag 6

Breek los en leef want Hy het die uitweg vir jou krisis

Bybelteks(te)

PSALMS 40

2Ek het gesmag na die hulp van die Here.

Hy het na my toe afgebuig

en my hulpgeroep gehoor.

3Hy het my uitgetrek uit die put van die dood,

uit die slymerige modder,

my op 'n rots laat staan

en my weer op vaste grond laat loop.

4Hy het my 'n nuwe lied in die mond gelê,

'n loflied vir ons God.

Baie sal daarvan hoor en Hom die eer toebring,

hulle sal op die Here vertrou!

PSALMS 40:2-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

JESAJA 43

2As jy deur water moet gaan, is Ek by jou,

deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie;

as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie,

die vlamme sal jou nie brand nie,

JESAJA 43

16So sê die Here,

Hy wat 'n pad gemaak het deur die see,

'n deurgang deur die magtige waters,

JESAJA 43:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

ʼn Leser skryf op ʼn dag: “Ek voel asof ek nie weet watter kant toe nie. Elke besluit wat ek neem eindig in ʼn doodloopstraat. Ek wil moed opgee met die lewe. Help asseblief.”

Voel jy vandag dieselfde as hierdie leser? Sit jy dalk met ʼn uitdaging wat jou magteloos laat voel – kompleet asof jy in ʼn donker kamer staan terwyl die mure van die kamer in jou rigting beweeg om jou vas te druk?

ʼn Paar jaar gelede vra ek die luisteraars tydens my radioprogram om my van hul grootste verrassing nóg te vertel. Uit die groot verskeidenheid humoristiese en interessante SMS-boodskappe wat ek ontvang het, was daar ook hierdie ernstiger een van ʼn luisteraar, Adriaan. Hy het geskryf: “My verrassing was dat ek God se stem gehoor het toe ek wou selfmoord pleeg. Sy woorde aan my was: ‘My kind, as jy dit vandag doen, gaan jy My die kans ontneem om in jou lewe te werk.’ Tot vandag toe sien ek daagliks God se hand in my lewe.”

Die vyand is daarop uit om ons te laat glo dat daar geen uitweg uit ons krisisse is nie. Dít is egter ʼn leuen. By God is daar altyd hoop en ʼn uitweg. Luister maar na die psalmdigter se woorde in Psalm 40:2-4: “Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op ʼn rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop. Hy het ʼn nuwe lied in my mond gelê … baie sal daarvan hoor en Hom die eer toebring, hulle sal op die Here vertrou.”

Ook in Jesaja 43:2,16 lees ons: “As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie … So sê die Here, Hy wat ʼn pad gemaak het deur die see, ʼn deurgang deur die magtige waters …”

Wat is die uitdaging wat jou vandag, soos die psalmdigter, laat voel asof jy in ʼn “put van die dood” staan? Het jy ʼn slegte mediese verslag gekry? Weet jy nie waar jou volgende bord kos vandaan gaan kom nie? Is jou huwelik besig om uitmekaar te val? Het jy ʼn krisis by die werk? Of weet jy, soos die bogenoemde luisteraar Adriaan, nie meer watter kant toe om te draai nie?

By God is daar altyd hoop en ʼn uitweg. Hy het sy grootheid aan ons gedemonstreer deur vir die Israeliete ʼn pad deur die see te maak. Net so het Hy in Adriaan se lewe gewerk toe hy Hom toegelaat het. As jy dus vandag voel of jy in ʼn donker kamer staan, gee Hom ʼn kans om vir jou ʼn deur oop te maak sodat jy die kamer kan agterlaat terwyl jy ʼn nuwe, beter lewe saam met Hom tegemoet stap. Onthou, by Hom is daar geen beperkinge nie. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS