Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Breek los – Dag 5

Breek los en leef want God is in beheer

Bybelteks(te)

PSALMS 24

Die Here is die magtige koning

1'n Psalm van Dawid.

Die aarde en alles wat daarop is,

die wêreld en dié wat daar woon,

alles behoort aan die Here,

JESAJA 55

8My gedagtes is nie julle gedagtes nie,

en julle optrede nie soos Myne nie,

sê die Here;

9soos die hemel hoër is as die aarde,

so is my optrede verhewe bo julle optrede

en my gedagtes bo julle gedagtes.

JESAJA 55:8-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

FILIPPENSE 4

19En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.

FILIPPENSE 4:19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Verskeie lesers het die afgelope paar jaar getuig oor hoe hulle beleef het dat God slegte situasies in hul lewens ten goede laat meewerk het. Ek deel vandag só ʼn getuienis wat jou hopelik sal inspireer.

Die bakkie was propvol wors en broodjies gelaai toe Ockie en ʼn span eerstejaarstudente by die Ellisparkstadion in Johannesburg opdaag. Dit was die Curriebekerfinaal en sy plan was om worsbroodjies te verkoop om vir sy en sy verloofde, Idene, se wittebrood te betaal.

Met 60 000 toeskouers wat die wedstryd sou bywoon, het hulle gedink dat hulle ten minste 10 000 worsbroodjies sou verkoop. Dít is hoeveel voorraad brood en wors hulle by hulle gehad het. Om tyd op die dag van die wedstryd te spaar, het hulle besluit om die wors vooraf halfgaar te maak.

Alles was in plek. Al wat nou kortgekom het, was die toeskouers wat in rye moes staan om die worsbroodjies te koop. Toe kom die skok. Met die aanvang van die wedstryd teen vieruur daardie Saterdagmiddag, het hulle nog net 20 worsbroodjies verkoop (die verwagting was ten minste 5 000 teen daardie tyd). Teen halftyd het dit nie veel beter gegaan nie en na afloop van die wedstryd het die stadion vinnig leeggeloop. Hulle het toe met ʼn bakkievrag kos gesit wat niemand wou koop nie. Geskok en in totale ongeloof het Ockie en sy span na mekaar gekyk. Geeneen van hulle kon glo wat hulle getref het nie.

Dit was stil in die motor toe Ockie en Idene van die stadion af wegry. Wat moes hulle met die berg kos maak? Hulle kon die wors nie vries en weer verkoop nie, aangesien dit reeds halfgaar was.

Ná ʼn gesprek met hulle predikant om voorstelle te kry van plekke wat die kos sou benodig, het hulle besluit om POPUP, ʼn organisasie in Pretoria wat Sondae na hawelose mense uitreik, te bel. Die bestuurder was amper in trane toe hy die oproep kry. Eers toe Ockie en Idene die kos by POPUP aflaai, het hulle die storie gehoor. Die borg wat daardie volgende dag vir POPUP kos sou voorsien, het die middag onttrek. Hulle was raadop en het as span besluit om na God te gaan en Hom vir ʼn deurbraak te vra. Ná die gebedsessie het hulle die oproep ontvang oor die bakkievrag kos wat op pad was. God het voorsien.

Ockie en Idene het steeds die wittebrood van hulle drome gehad en as hulle vandag terugdink aan die situasie by die Ellisparkstadion, weet hulle dat die worsbroodjies eintlik nooit hulle sʼn was nie. Dit was God sʼn. Dit is met dankbaarheid dat hulle besef dat God hulle daardie dag gekies het om ʼn skakel in sy groter plan te wees.

In Psalm 24:1 lees ons: “Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here …” Ook in Jesaja 55:8-9 sê God self: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.” En in Filippense 4:19: “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.”

Het jy ʼn behoefte vandag of sukkel jy om sin te maak van ʼn ongemaklike situasie in jou lewe? Onthou, alles in die wêreld behoort aan God. Hy is ons Voorsiener en kan enigiets gebruik om sy doel te bereik. Die vraag is: Is jy ʼn beskikbare instrument as Hy dalk vandag deur jou lewe wil werk? Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS