Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Breek los – Dag 4

Breek los en waag om te vergewe

Bybelteks(te)

PSALMS 103

12So ver as die ooste van die weste af is,

so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.

PSALMS 103:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

JESAJA 1

18Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here:

Al was julle skarlakenrooi van sonde,

julle sal wit word soos sneeu.

Al was julle purperrooi,

julle sal wit word soos wol.

JESAJA 44

22Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis,

hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke.

Kom terug na My toe,

want Ek het jou verlos.

JESAJA 44:22AFR83Maak oop in die Bybelleser

ʼn Priester gesels op ʼn dag met ʼn vrou wat beweer dat God persoonlik aan haar verskyn het. Hoogs skepties oor hierdie aanspraak, besluit hy om haar te toets. “Mevrou,” sê hy, “as God weer aan jou verskyn, vra Hom om jou te vertel van my geheime sonde, want net Hy weet wat dit is.” Die vrou het ingestem om dit te doen. Die priester het gedink dat hy haar op dié manier goed sou uitvang as sy ʼn leuen vertel.

ʼn Maand later is die priester terug na die vrou. “So, mevrou,” het hy smalend begin, “het jy toe vir God gevra wat my geheime sonde is?” Tot sy verbasing antwoord sy: “Ek het.” Geskok vra die priester toe: “En wat het Hy geantwoord?” Tot sy verrassing kom haar antwoord: “God het vir my gevra: ‘Watter sonde?’ En toe gesê: ‘Sê vir die priester ʼn sonde wat Ek vergewe het, vergeet Ek ook.’ ”

In Psalm 103:12 lees ons: “So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.” Ook in Jesaja 1:18 staan geskryf: “Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.” En in Jesaja 44:22 sê God self: “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos.”

God vergewe en vergeet ons oortredinge wanneer ons waarlik berou het en daarvan wegdraai. Tog, doen jy dieselfde wanneer jou medemens teen jou oortree – en waarlik berou oor sy of haar dade het – of koester jy ʼn wrok deur die oortreder konstant aan die oortreding te herinner?

Een van die vyand se doelwitte is om te verseker dat ons so lank moontlik aan ʼn onvergewensgesindheid vasklou. Nie net omdat dit die vreugde en vrede in ons lewens steel nie maar ook omdat dit verhoed dat ons ʼn oorvloedige lewe lei aangesien ʼn onvergewensgesindheid mettertyd in bitterheid omsit en bitterheid ons stadig doodmaak. Hoe doen die vyand dit? Hy laat jou glo dat jy swak word as jy vergewe omdat jy jou reg om kwaad met kwaad te vergeld prysgee. Die waarheid is egter: Solank jy ʼn wrok koester, is dit eintlik jy wat daaronder ly.

Wie in jou lewe moet jy vergewe en waarvoor? Kies vandag om met die hulp van die Heilige Gees wat in ons werk, uit die kloue van die vyand te breek en te vergewe. Jy mag verbaas wees oor hoe God jou vrymaak en hoe jy (dalk vir die eerste keer) waarlik ʼn lewe in oorvloed kan smaak. Gaan jy dit waag? Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS