Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Breek los – Dag 3

Breek los en leef ʼn 100 °C-lewe

Bybelteks(te)

DANIËL 10

12Hy sê toe vir my: “Moenie bang wees nie, Daniël, want van die eerste oomblik af dat jy jou ingespan het om insig te kry en jou voor jou God verootmoedig het, is jou gebede verhoor. Ek het gekom in antwoord op jou gebede. 13Die engel van die Persiese Ryk het my een en twintig dae lank teruggehou, maar toe het Migael, een van die vernaamste engele, my te hulp gekom en ek was nie meer nodig teen die Persiese konings nie.

DANIËL 10:12-13AFR83Maak oop in die Bybelleser

MATTEUS 17:21AFR83Maak oop in die Bybelleser

JESAJA 49

Hulle sal nie honger of dors kry nie

8So sê die Here:

Op 'n tyd wat Ek goeddink, sal Ek jou gebede verhoor,

op die dag wanneer Ek wil red, sal Ek jou help.

Ek sal jou beskerm

en jou my verbond met my volk maak

om sy land te herstel,

om sy verlate eiendom weer in besit te neem,

Hier volg ʼn uittreksel uit ʼn e-pos wat ek van ʼn leser ontvang het: “Benescke, jy sê God is oral, maar wat kan ʼn mens doen as Hy van jou vergeet het? Die Bybel sê: ‘Julle het nie omdat julle nie bid nie’, maar wat as ʼn mens bid en God jou nie antwoord nie? Die Bybel sê ook: ‘My God sal in al julle behoeftes ryklik voorsien, volgens sy oorvloedige rykdom in Christus Jesus’, maar is dit net vir sekere mense bedoel? Help asseblief.”

Sodra ʼn mens ʼn krisis in jou lewe ervaar of vir ʼn geruime tyd lank oor ʼn saak bid en nie ʼn deurbraak beleef nie, is die versoeking daar om te begin wonder of God van jou vergeet het en of Hy net sekere mense se gebede verhoor. Die waarheid is egter dat God nie die aansien van ʼn persoon in aanmerking neem nie. Hy is vir ons almal ewe lief en Hy het vir ons elkeen planne van voorspoed en nie teëspoed nie.

Dus, as jy vandag soos die bogenoemde leser mismoedig voel, wil ek jou bemoedig met die een graad-reël. Het jy al daarvan gehoor?

Op 99 °C is water warm – baie warm. Tog moet dit 100 °C bereik om te begin kook en stoom vry te laat. Hierdie stoom kan ʼn lokomotief, fabrieke en skepe aandryf. Warm water kan dit nie doen nie. Dit is die 1 °C ekstra wat die verskil maak.

In ons lewens kan ons maklik in die strik trap om op 99 °C te begin moed opgee. Dink byvoorbeeld aan hoe jy voel as jy al vir ʼn geruime tyd bid vir ʼn werksgeleentheid, ʼn huweliksmaat, ʼn baba, genesing van ʼn siekte, vir ʼn geliefde om tot bekering te kom of vir jou huwelik om te herstel – sonder sukses. Die water is warm, maar die stoom bly weg. Dit is hier waar jy die karaktertoets moet slaag.

Job en Josef was ook eens daar. Job, op die ashoop, gestroop van al sy besittings, in pyn oor die verlies van sy kinders en sy liggaam oortrek met sere. Josef, in ʼn vuil, verlate tronk in Egipte, sonder enige hoop om ooit vrygelaat te word. Beide mans het baie vrae oor hulle omstandighede gehad. Tog het nie een van hulle hul rug vir God gedraai nie. Hulle het aangehou glo dat Hy in beheer van hulle lewens was. En juis omdat hulle die karaktertoets geslaag het, het God in ʼn oogwink hulle situasies verander. Job het dubbeld sy besittings teruggekry en Josef is as onderkoning van Egipte aangestel. Hulle het beleef hoe die 99 °C in 100 °C verander – omdat hulle aangehou glo het.

Ook Daniël het vir ʼn deurbraak gebid – later gevas én gebid. In Daniël 10:12-13 lees ons dat God sê dat Hy reeds op dag 1 geantwoord het, maar dat dit 21 dae lank geneem het omdat ʼn demoniese mag die antwoord verhoed het. Daniël se vas en aanhoudende gebed het die deurbraak bewerkstellig. In Matteus 17:21 sê Jesus ook dat sommige deurbrake net met vas en gebed kom.

God is in beheer van ons elkeen se lewens. Luister maar na sy woorde in Jesaja 49:8: “Op ʼn tyd wat Ek goeddink, sal Ek jou gebede verhoor, op die dag wanneer Ek wil red, sal Ek jou help.”

Kom ons slaag die karaktertoets en hou aan vertrou dat God in beheer van ons lewens is. Mens weet nooit, vandag mag dalk net die dag wees wat jy die stoom in jou lewe begin beleef! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS