Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Breek los – Dag 2

Breek los en vertrou God vir selfs groter dinge

Bybelteks(te)

PSALMS 37

4Vind jou vreugde in die Here,

en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.

EFESIËRS 3

20Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, 21aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.

EFESIËRS 3:20-21AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dit het begin met ʼn SMS van ʼn desperate ouma, Aletta van Eersterivier, tydens my radioprogram op Radio Tygerberg 104fm. Sy het vertel dat haar 9-jarige kleinseun, Cole, ontroosbaar is nadat sy fiets, waarvoor hy baie lank gewag het, die aand vantevore uit hulle agterplaas gesteel is. Hulle is behoeftig en kan nie die fiets vervang nie. Sy het vertel dat Cole gehuil het “asof iemand in die huisgesin gesterf het”.

In die hoop dat iemand êrens in die Kaapse Skiereiland dalk ʼn tweedehandse fiets as donasie sou gee, het ek die SMS met die luisteraars gedeel. Tot my verbasing het ʼn luisteraar skaars twee minute later laat weet dat hy vir Cole ʼn nuwe fiets wou koop.

Ons het gereël dat ouma Aletta, Cole, en die weldoener Ryno na die ateljee kom. Wat ouma Aletta en Cole nie geweet het nie, is dat die nuwe fiets, wat maklik vyf keer die waarde van Cole se gesteelde fiets was, in ʼn ander ateljee weggesteek was. ʼn Kollega het op my teken gewag om dit by die ateljee in te stoot.

Toe dié oomblik aanbreek was Cole en sy ouma albei in trane. Hulle kon glo wat hulle sien nie. Eers later het ouma Aletta vertel dat Cole en sy maats al vir ʼn geruime tyd lank droom oor ʼn fiets presies soos die nuwe een. Ouma Aletta het egter altyd vir Cole gesê: “Onthou, net die Here kan vir jou so ʼn fiets gee.” En God het.

Dié storie het my opnuut laat besef dat God werklik ons elkeen se diepste hartsbegeertes ken. In Psalm 37:4 lees ons immers: “Vind jou vreugde in die Here; en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.” Ook in Efesiërs 3:20-21 staan geskryf: “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons kan bid of dink, aan Hom kom die eer toe.”

Is jy dalk in ʼn soortgelyke situasie waar jy verlies of ʼn teleurstelling moet verwerk? Dalk het ʼn ernstige verhouding op die rotse beland, ʼn besigheidstransaksie het deur die mat geval of jy het dalk nie jou droomwerk gekry nie. In plaas daarvan om ontsteld te wees en God te blameer, begin eerder om Hom te dank. Hy ken jou toekoms en is heel moontlik besig om jou van ʼn verkeerde keuse of besluit te beskerm of dalk voor te berei vir ʼn veel groter deurbraak in die toekoms.

Kan jy jou indink watter glimlag op God se gesig was daardie oomblik toe die fiets (tot Cole se verbasing) by die ateljee ingestoot word? ʼn Klein seuntjie se droom het waar geword. God wil en kan jou ook verras. Waarvoor vertrou jy Hom vandag? Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS