Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Breek los – Dag 1

Breek los en leef want God is oral

Bybelteks(te)

SPREUKE 15

3Die Here sien oral;

Hy hou slegte en goeie mense dop.

SPREUKE 15:3AFR83Maak oop in die Bybelleser

LUKAS 10

19Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen.

JOHANNES 10

10'n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

JOHANNES 10:10AFR83Maak oop in die Bybelleser

In die Britse Museum is daar ʼn landkaart wat uit die sestiende eeu dateer. Oral op die kaart is daar, in ooreenstemming met die opvattings van die tye, sketse en byskrifte aangebring as waarskuwings vir voornemende reisigers. By party plekke staan geskryf: “Hier bly reuse”, by ander plekke: “Pas op vir die drake”, en by nog ander: “Hier woon vuurspuwende skerpioene”.

Hoewel die waarskuwings die meeste reisigers afgeskrik het, het dit ʼn ander effek gehad op die wetenskaplike, sir John Franklin. Nadat hy die kaart vir ʼn geruime tyd bestudeer het, het hy elk van die waarskuwings doodgetrek en dwarsoor die kaart geskryf: “God is oral.”

Nie een van ons is gevrywaar van gerugte van “drake, reuse en vuurspuwende skerpioene” (in die vorm van finansiële druk, siekte of uitdagings by die huis of werkplek) wat ons pad mag kruis nie. Tog, wat is jou reaksie wanneer dit gebeur? Laat jy toe dat vrees jou lamlê en verloor jy hoop op ʼn beter toekoms? Of herinner jy jouself, soos sir John Franklin, dat God, Hy wat nooit verander nie, jou toekoms ken en reeds die antwoorde op elke uitdaging het?

In Spreuke 15:3 skryf die spreukedigter: “Die Here sien oral …” In Lukas 10:19 sê Jesus: “Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen.” En in Johannes 10:10 sê Jesus: “Die dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê en dit in oorvloed.”

Wat is jou uitdaging vandag? Voel dit asof hierdie uitdaging besig is om die oorhand in jou lewe te kry? Daar is hoop. God is oral. Jesus het aan ons die outoriteit gegee om oor elke “reus, skerpioen of draak” te heers en te danke aan Hom, kan ons losbreek en ʼn lewe in oorvloed begin leef. Kom ons rig ons oë opnuut op Hom met die wete dat Hy ons deur elke uitdaging sal dra. Sterkte!

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS