Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Breek los – Dag 18

Breek los en hou aan om Hom te prys

Bybelteks(te)

HABAKUK 3

17Al sou die vyeboom nie bot nie

en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,

al sou die olyfoes misluk

en die lande geen oes lewer nie,

al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie

en die beeskrale sonder beeste wees,

18nogtans sal ek in die Here jubel,

sal ek juig in God, my Redder.

HABAKUK 3:17-18AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOB 42

5Tot nou toe het ek net gehoor

wat mense van U sê,

maar nou het ek U self gesien,

ʼn Aantal lesers het oor die jare getuig van wonderwerke wat hulle beleef het. Hier is ʼn uittreksel uit ʼn e-pos van ʼn leser, André Bruyns:

“Ek het vanoggend in ʼn bedrukte bui by die werk aangekom. Ek werk op kommissiebasis en het tot dusver (25 Februarie) nog niks verkoop nie, wat beteken geen geld teen die einde van die maand nie. Wat sake vererger is dat my vrou tans by die huis is en binnekort geboorte gaan skenk aan ons eerste kind – ʼn seuntjie! Die stres vreet my op.

Toe lees ek die dagstukkie wat handel oor God se vermoë om enige berg in ons pad te verwyder en ’n wonderwerk te doen. Ek het besluit om soos die man in die dagstukkie God vir ʼn wonderwerk te vra. Nadat ek my hart desperaat voor Hom uitgestort het, het ek begin om Hom te prys met die lied, ‘Juig al wat leef, juig voor die Heer’. Sowat 10 minute later het ek ʼn oproep van een van my groot kliënte gekry met ʼn groot bestelling wat ek Maandagoggend moet gaan aflaai.

In absolute verwondering het ek God met ʼn glimlag gedank. Hy het ingegryp en binne 10 minute my hele maand suksesvol gemaak. Aan Hom al die eer!”

André is reg. God kan enige storm binne sekondes stilmaak. Tog, wat is jou reaksie wanneer daardie storm ʼn bietjie langer aanhou woed as waarop jy gehoop het?

Habakuk en Job het albei beleef dat God ons nooit sal verlaat of in die steek laat wanneer ons aanhou om Hom te midde van ʼn storm te prys nie. Luister maar na Habakuk se woorde in Habakuk 3:17-18: “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.” Ook Job het te midde van die moeilikste tyd nooit sy rug vir God gedraai nie. Juis daarom het hy God opnuut ontdek. Luister na sy woorde aan die einde van sy verhaal in Job 42:5: “Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien …”

Watter wonderwerk of uitkoms benodig jy vandag? Kom ons hou aan om, soos Habakuk en Job, God te prys te midde van ons storms. Dít stel ons immers in staat om verby ons uitdagings te kyk en God se grootheid raak te sien. Ook skep dit ʼn atmosfeer waarin wonderwerke kan plaasvind. Onthou, jou huidige uitdaging is ʼn geleentheid om soos Job God se karakter opnuut te ontdek. Moenie moed opgee nie. Jou deurbraak is vir seker op pad! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS