Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Breek los – Dag 17

Breek los en vertrou God vir ʼn deurbraak

Bybelteks(te)

PSALMS 77

15U is die God wat wonderdade doen;

U het u mag onder die volke geopenbaar.

PSALMS 77:15AFR83Maak oop in die Bybelleser

PSALMS 22

4U is tog die Heilige

wat woon waar die lofsange van Israel weerklink!

EFESIËRS 3

20Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, 21aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.

EFESIËRS 3:20-21AFR83Maak oop in die Bybelleser

Bevind jy jou tans in ʼn situasie waar jy ʼn wonderwerk nodig het? Iban Vermeulen van Stellenbosch het beleef dat God vandag nog wonderwerke doen. Hier is Iban se getuienis:

“Ek het hard op my tande gebyt toe nog ʼn steekpyn deur my been skiet waar ek alleen in die hospitaalbed gelê het. My vrou was by die huis met ons pasgebore babadogtertjie terwyl die dokters desperaat probeer het om die velbakterieë (sellulitis) in my been te stop. Die vel op my kuit het egter bly afdop en my voet was reeds potblou.

Dae vantevore het ek saam met ʼn vriend gaan koffie drink. Daar was ʼn steek in my been. Ek het nie dadelik aandag daaraan gegee nie. Teen laatmiddag het ek egter begin sleg voel en daardie aand teen ongeveer agtuur het ek inmekaargesak. My koors was 41 °C en dit het gevoel asof my hele lyf se spiere inmekaartrek. Ek is dadelik dokter toe. Die voorgeskrewe medikasie het egter nie gehelp nie. Die pyn het vererger en drie dae later is ek gehospitaliseer.

Die dokters het eindelik ontdek dat ʼn vioolspinnekop my op my kuit gebyt het. Die gif het velbakterieë veroorsaak wat die tweede en derde laag van my vel weggevreet het. Ten spyte van die sterkste moontlike dosis antibiotika om die bakterieë te stop, het dit nie gehelp nie. My voet het al blouer geword, die vel het bly afdop en daar was sprake dat die dokters my been sou moes amputeer om die skade van die gif te stop. Ek was moedeloos en desperaat.

Deur my trane het ek in die hospitaalbed my oë gesluit en gebid dat God my sou genees. Net Hy kon ʼn wonderwerk doen. Ek het hierna die liedjie van Planetshakers, God is Able, in geloof oor en oor geluister terwyl ek God gedank het dat Hy in beheer van my lewe is.

Die volgende oggend was die dokters verbaas. Die rooi inflammasie in my been het skielik begin opklaar. Hulle kon nie verstaan hoe die antibiotika toe eers ingeskop het nie. Dit het egter nog ʼn tydjie geneem voordat ek heeltemal gesond was.

ʼn Paar weke nadat ek uit die hospitaal ontslaan is, het ek ʼn dokter gaan spreek wat in spinnekopbyte spesialiseer. Sy het na die dosis antibiotika gekyk wat in die hospitaal aan my gegee is en dadelik gesê dat dit nie die bakterieë sou stop nie aangesien dit die verkeerde soort antibiotika was. In daardie oomblik het ek geweet dat God daardie aand in die hospitaalkamer by my was. Hy het my desperaatheid raakgesien, my aangeraak en my genees. Vandag gee ek aan Hom al die eer vir ʼn wonderwerk in my uur van nood!”

Iban is reg. Niks is vir God onmoontlik nie. Die psalmdigter skryf immers in Psalm 77:15: “U is die God wat wonderdade doen; U het u mag onder die volke geopenbaar.” God is teenwoordig wanneer ons begin om Hom te loof en te prys. In Psalm 22:4 lees ons: “Tog is U die Heilige wat woon onder die lofsange van Israel!” En daar is geen beperkinge op wat Hy kan doen nie. In Efesiërs 3:20-21 lees ons: “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe …”

Watter wonderwerk benodig jy vandag? Die herstel van jou huwelik, genesing, ʼn werkgeleentheid, of finansiële voorsiening voor die einde van die maand? Wat is jou reaksie in die wagtyd? Begin jy twyfel of God werklik jou gebede hoor of loof en prys jy Hom soos Iban, en soos Paulus en Silas wat in die tronk opgesluit was? Onthou, God hoor elkeen van jou gebede en sy antwoord is dalk net een gebed weg. Sterkte!

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS