Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Breek los – Dag 16

Breek los en laat die oordeel aan God oor

Bybelteks(te)

NEHEMIA 8

11Nehemia het verder gesê: “Gaan vier fees, eet en drink, en deel uit aan dié wat niks voorberei het nie. Hierdie dag word gewy aan ons Here. Moenie bedroef wees nie; as julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm.”

NEHEMIA 8:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

PSALMS 34

15Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is,

soek vrede en jaag dit na!

PSALMS 34:15AFR83Maak oop in die Bybelleser

PSALMS 9

5Toe U op die troon gaan sit het as betroubare regter,

het U aan my reg laat geskied.

JESAJA 54

17Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val,

sal iets uitrig nie;

elkeen wat vals teen jou getuig,

sal gestraf word.

Dit is hoe Ek, die Here,

vir my dienaars sorg.

Ek laat geregtigheid aan hulle geskied, sê die Here.

JESAJA 54:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

JESAJA 5

16Die Here die Almagtige is verhewe,

Hy laat reg geskied;

die heilige God laat Hom ken as die Heilige,

Hy oordeel regverdig.

As jy vandag jou vreugde en vrede op ʼn 10-punt skaal moet weeg, waar sal dit lê?

Die vyand teiken ons vreugde en vrede omdat hy weet dat ons daarsonder rusteloos en kragteloos word. In Nehemia 8:11b lees ons immers: “… die blydskap in die HERE – dit is julle beskutting”. Sonder vreugde beweeg ons uit onder die beskutting van Christus terwyl ons kragteloos word. En in Psalm 34:15 staan geskryf: “Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na!” Sonder vrede sukkel ons om goeie besluite te neem of selfs om God se stem in ons lewens te hoor omdat dit gedurig voel asof iets ons jaag.

Hoe steel die vyand ons vreugde en vrede? Dink byvoorbeeld aan hoe jy voel as iemand jou in die werkplek te na gekom het of as jy uitvind dat jy die slagoffer van ʼn skinderstorie was? Ons eerste reaksie is meestal om terug te veg en ons onskuld te probeer bewys terwyl ons die persoon wat ons te na gekom het terug slegsê. Hierna tob ons oor die onregverdige daad teen ons terwyl ons onbewustelik in die vyand se strik trap om ons vreugde en vrede te verloor.

ʼn Tyd gelede het só ʼn situasie my getref. Ontnugter, geskok en seergemaak oor die onsensitiewe, onwaar uitlating teen my, was ek gereed om terug te veg toe ek skielik die stem van die Heilige Gees in my binneste ervaar: “Benescke, gaan jy nou in jou eie krag probeer terugveg en jou vreugde en vrede verloor of gaan jy My vertrou om namens jou die stryd te voer?!” Dié woorde het my in my spore gestuit by die besef hoe magteloos ek sonder God se ingryping is.

Is jy ook tans in ʼn situasie waar jy reg is om kwaad met kwaad te vergeld weens ʼn onregverdige daad of uitlating teen jou? Dalk is jy te na gekom in ʼn besigheidstransaksie of in die werkplek, of deur ʼn familielid of goeie vriend of vriendin seergemaak. Gaan jy in die vyand se strik trap deur in jou eie krag te probeer terugveg (en jou vreugde en vrede verloor), of gaan jy die situasie aan God oorlaat en vertrou dat Hy namens jou sal veg?

God is ʼn regverdige regter. In Psalm 9:5 lees ons: “Toe U op die troon gaan sit het as betroubare regter, het U aan my reg laat geskied …” Ook in Jesaja 54:17 lees ons: “Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val, sal iets uitrig nie; elkeen wat vals teen jou getuig, sal gestraf word. Dit is hoe Ek, die Here, vir my dienaars sorg. Ek laat geregtigheid aan hulle geskied, sê die Here.” En in Jesaja 5:16 staan geskryf: “Die Here die Almagtige is verhewe, Hy laat reg geskied … Hy oordeel regverdig.”

Hoe lyk jou vreugde en vrede vandag? Kom ons maak dit ons doelwit om dít te beskerm terwyl ons opnuut na God, ons regverdige Regter, draai in vertroue dat Hy namens ons die oordeel sal fel, ons name sal beskerm en ons onskuld sal bewys. Hy beloof immers dat geen wapen wat teen ons gesmee word enigiets sal uitrig nie – en dít is ʼn belofte! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS