Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Breek los – Dag 15

Breek los en weet Hy is daar

Bybelteks(te)

2 KORINTIËRS 12

9Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.

2 KORINTIËRS 12:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ná die dagstukkie oor God se finansiële voorsiening vir ʼn gesin in nood, het verskeie lesers vir my e-posse gestuur waarin hulle vertel van uitdagings wat hulle beleef ten opsigte van hulle gesondheid, huwelik, probleme in die werkplek, finansies, ens. Beleef jy dalk ook tans so ʼn krisis? Hier volg ʼn gedeelte wat ek hoop jou met ander oë na jou situasie sal laat kyk.

In ʼn toneel in die fliek, The Best Exotic Marigold Hotel, sê een van die akteurs: “Everything will be all right in the end. If it is not all right, it is not the end.” Skrywer Jerry Bridges sluit hierby aan wanneer hy skryf: “Jou slegste dae is nooit so sleg dat dit buite die genade van God val nie. Jou beste dae is nooit so goed dat dit nie God se genade benodig nie.”

God weet presies waarheen Hy met jou lewe op pad is. Geen krisis wat oor jou pad kom vang Hom ooit onkant nie. As jy dus vandag met ʼn storm sit wat nie wil opklaar nie, kan jy weet dat God steeds besig is om agter die skerms te werk. Ná enige storm breek die son immers altyd weer deur.

Paulus het dit verstaan. In 2 Korintiërs 12:9 vra hy dat God die “doring in sy vlees” moet wegneem. God antwoord: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Hierop reageer Paulus: “Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.”

Wat dreig om jou vandag te oorweldig? Onthou, dít val nie buite die genade van God nie. Kom ons draai in ons swakheid na Hom. Wanneer ons ons Skepper van aangesig tot aangesig ontmoet, raak ons opnuut bewus van sy grootheid en krag waarmee Hy alles ten goede kan laat meewerk. Want onthou, as dinge nog nie reg is nie, is dit nie die einde nie. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS