Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Breek los – Dag 14

Breek los en vertrou God met jou finansies

Bybelteks(te)

PSALMS 37

25Ek was jonk en ek het oud geword,

maar nooit het ek 'n regverdige verlate gesien

of dat sy nageslag brood soek nie.

PSALMS 37:25AFR83Maak oop in die Bybelleser

HEBREËRS 11

Wat geloof is

1Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

HEBREËRS 11:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

FILIPPENSE 4

6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

FILIPPENSE 4:6-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Het jy al ooit ʼn punt in jou lewe bereik waar jy met jou rug teen die muur staan met die wete dat net God ʼn deurbraak in jou lewe kan bewerkstellig? Sangeres en radiopersoonlikheid Rouchelle Liedemann en haar gesin was eens daar. Hier is Rouchelle se getuienis:

“Trane het oor my wange gevloei waar ek in die kombuis in ons huis gestaan het. ʼn Gevoel van magteloosheid het gedreig om my te oorweldig. Hoe kon ons lewens in só ʼn kort tydjie so ingrypend verander het? En waar sou ons volgende bord kos vandaan kom?

Maande vantevore het ons een oggend vroeg die skoknuus ontvang dat my man, Jamie, se werkgewer vermoor is. Iemand het hom van ʼn gebou in Claremont afgestamp. In daardie stadium het ons ʼn gerieflike leefstyl gehandhaaf. Ons het in ʼn gemaklike huis gewoon, twee voertuie besit en gereeld met vakansie weggegaan. Ek het nie nodig gehad om te werk nie aangesien ons nie ʼn dag se stres oor finansies beleef het nie. Ons jongste van drie kinders was toe drie maande oud. ʼn Maand ná Jamie se werkgewer dood is, is hy egter weens herstrukturering in die besigheid afgelê. Meteens was hy werkloos en ons sonder ʼn inkomste.

Hoewel Jamie dadelik vir ʼn ander werk begin aansoek doen het, was hy telkens onsuksesvol. Ons spaargeld het mettertyd uitgeput geraak. Die oggend wat ek in die kombuis gestaan het, het ons net R20 in die huis gehad. Ons moes besluit of ons elektrisiteit of ʼn brood daarmee sou koop. My hart was geweldig seer omdat ek geweet het dat dit vir my man begin voel het of hy nie vir ons as gesin kan sorg nie. Met my rug teen die muur het ek ernstig vir God vir ʼn deurbraak gevra. Net Hy kon vir ons voorsien.

Daar was meteens ʼn klop aan die voordeur. Toe ek dit oopmaak, het een van ons gemeentelede op ons stoep gestaan met ʼn hele paar sakke kruideniersware in haar hand. God het haar gelei om dit vir ons te koop. Die woorde van Psalm 37:25 by my opgekom: ‘Ek was jonk en ek het oud geword, maar nooit het ek ʼn regverdige verlate gesien of dat sy nageslag brood soek nie …’ Ek het geweet dat dit God was wat vir ons voorsien het.

Tydens daardie donker finansiële maande het ons as gesin beleef hoe God ons nederig en ook diep afhanklik van Hom gemaak het – en nooit het Hy ons alleen gelaat nie. Te midde van hierdie moeilike tyd het ek aan ʼn nuwe album begin werk. In my hart het ek ervaar dat ons in geloof moes skryf oor ʼn nuwe begin – hoewel ons dit nog nie beleef het nie. Ons het dit gedoen.

Terwyl ons in gehoorsaamheid en in geloof begin het om God vir deurbrake te dank wat ons nog nie beleef het nie, het ons situasie begin verander. Jamie het ʼn goeie werk gekry, ek het ʼn oplewing in my loopbaan beleef en vandag gaan dit finansieel weer goed met ons. Vandag weet ons dat alles wat ons het ʼn genadegawe uit God se hand is en ons eer Hom vir ʼn wonderwerk wat ons in ons lewens beleef het.”

Rouchelle is reg. God is meer geïnteresseerd in ons karakter as ons gemak. Wanneer ons Hom te midde van ons storms begin prys, demonstreer ons ons geloof aan Hom. In Hebreërs 11:1 lees ons immers: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” Ook in Filippense 4:6-7 staan geskryf: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

Kom ons begin God prys vir wat Hy kan doen – te midde van ons storms. Die donker wolke mag dalk baie vinniger opklaar as wat ons gedink het terwyl die son weer deurbreek. Sterkte!

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS